Central SA
Oorstromings: Moet asseblief nie nou Krugerwildtuin toe gaan, vra Sanparke─── 15:02 Mon, 12 Jan 2026
Sanparke doen ’n dringende beroep op toeriste om hul beplande besoeke aan die Krugerwildtuin uit te stel, weens swaar reën en oorstromingsgevare wat dele van die park onbegaanbaar maak.
Verskeie hekke en paaie is reeds gesluit, insluitend die Pafuri- en Punda Maria-hek. Die noordelike deel van die park is tans slegs via die Palaborwa-hek bereikbaar.
Alle paaie vanaf die ruskamp Onder-Sabie na Skukuza en Satara is ook gesluit. Verder noord is die Mopani-restaurant tydelik gesluit as voorsorgmaatreël, sê JP Louw, Sanparke-woordvoerder. 
Kommer heers oor die stygende watervlak van die Krokodilrivier, wat kan meebring dat besoekers in die park vasgekeer word. Foto: Renée Jonker
Daar is veral kommer oor die Krokodilbrug-hek in die suide, wat steeds oop is, maar fyn gemonitor word. Indien die Krokodilrivier oorstroom, kan die brug ontoeganklik raak en die risiko ontstaan dat gaste in die park vasgekeer word.
Geen toegang tot Skukuza
Gaste wat in Onder-Sabie en Krokodilbrug tuisgaan, het tans geen beskikbare roete om Skukuza te bereik nie.
“Sanparke kontak tans alle gaste wat beplan om die park te besoek, met die versoek om hul besoeke te herskeduleer – veral diegene wat deur geraakte hekke of na kampe in die pad van die oorstromings reis,” sê Louw.
Gaste word dringend gevra om padsluitings, geen-toegangtekens en instruksies van parkamptenare streng te gehoorsaam. Versperrings of houtstompe wat paaie afsluit, mag onder geen omstandighede verwyder word nie. “Hulle is daar om mense weg te hou van oorstroomde of struktureel onstabiele gebiede.”
Sanparke monitor situasie
Sanparke monitor die situasie noukeurig in samewerking met die Suid-Afrikaanse Weerdiens.
“Die veiligheid van ons gaste, personeel en omliggende gemeenskappe bly ons hoogste prioriteit. Ons bedank besoekers vir hul samewerking en begrip gedurende hierdie tyd.”

Die Sandrivier in vloed. Foto: Renée Jonker
Die organisasie het die naweek gewaarsku dat verskeie riviere vinnig vloei en reeds in vloed is, insluitend die De Laporte-, N’watshitsaka- en Krokodilrivier. Die vlak van die Sabierivier het ook aansienlik gestyg, wat paaie naby Satara en die Tshokwane-piekniekplek beïnvloed.
Gaste wat Skukuza-lughawe vanaf die noorde van Tshokwane wil bereik, moet óf via die Satara-Orpen-hek reis, óf van buite die park toegang verkry via die R40.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel?Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus mvh

