Central SA
Vrystaat gereed om uitblinkers op spoggeleentheid te vereer─── 17:00 Wed, 14 Jan 2026
Die Vrystaatse departement van onderwys is gereed om Vrydag (16/1) sy jaarlikse toppresteerdersgeleentheid by die Sentrale Universiteit van Tegnologie aan te bied om die uitslae van die 2025-matrikulante te vier.
Hierdie geleentheid vind plaas by die universiteit se hotelskool, waar belangrike hooggeplaastes teenwoordig sal wees, onder wie premier Maqueen Joyce Letsoha-Mathae, en onderwys-LUR Mamiki Maboya.
Volgens Maboya is dit die eerste keer in agt jaar dat die Vrystaat na die tweede plek landwyd afskuif, terwyl KwaZulu-Natal die beste provinsie in die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen word wat slaagsyfer betref. Die Vrystaat se slaagsyfer vanjaar is 89,33%, teenoor KwaZulu-Natal se 90,6%.
Maboya sê sy het haar formele gelukwensing aan die LUR van onderwys in KwaZulu-Natal oorgedra.

Die Vrystaat is gereed om, nes verlede jaar, toe dié foto geneem is, en vorige jare, sy matriekpresteerders te vereer op die jaarlikse prestasiegeleentheid. Foto verskaf
Hoewel die rangorde verander het, is sy steeds positief oor die provinsie se prestasie, omdat die effense daling nie afbreuk doen aan die leerders se harde werk nie.
“Die Vrystaat het goeie werk gedoen,” sê Maboya, en voeg by die provinsie het daarin geslaag om meer as 34 000 leerders te laat slaag.
Wat die nasionale tendens rakende ’n afname in prestasie in wiskunde en rekeningkunde betref, erken Maboya hierdie vakke is ’n groot uitdaging vir leerders landwyd.
Sy meen egter die belangrikste is hoe sake vorentoe reggestel word, wat die klem verskuif na ’n strategie vir akademiese herstel.
Sy moedig belanghebbendes aan om perspektief te behou en mense daaraan te herinner die Vrystaat is steeds die enigste provinsie wat in 2024 ’n rekordslaagsyfer van 91% kon behaal.
“Die belangrikste is hoe ons sake vorentoe regstel,” benadruk Maboya.
‘Wees trots op klas van 2025’
In ’n dringende versoek aan ouers, onderwysers en skoolhoofde word gevra dat die 2025-groep se prestasie met trots gevier word.
Terselfdertyd word gewaarsku teen die nadelige opvatting dat leerders kwansuis nie hard genoeg gewerk het nie, bloot omdat die provinsie sy eerste plek op die ranglys afgestaan het.
Ouers en opvoeders moet steeds trots wees op die sukses wat hierdie matrikulante behaal het.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of WhatsApp die OFM Nuuslyn: 066487 1427.
OFM Nuus cvs

