Central SA
Vrystaatse prokureur en pa dan gegroet─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:25 Thu, 15 Jan 2026
Die Vrystaatse prokureur en pa wat die naweek in ’n ongeluk gesterf het, sal op 19 Januarie gegroet word.
Ockert Vermaak (36), ’n prokureur van Vanderbijlpark, is Saterdag (10/1) kort ná middernag dood nadat hy ernstig beseer is in ’n motorfietsongeluk. Vermaak het saam met twee vriende op die Potchefstroom-Vanderbijlpark-pad gery toe hy beheer oor sy motorfiets verloor het.
Volgens sy familie het Vermaak saam met een van sy vriende op sy BMW GS-motorfiets gery toe hy in ’n draai beheer verloor het. Sy vriend het dadelik hulp ontbied en hy is na die Emfuleni Mediclinic geneem, waar hy net ná middernag oorlede is.

Geen ander voertuie was in die ongeluk betrokke nie. Die familie versoek in hierdie swaar tyd privaatheid, en begrafnisreëlings is nog nie aangekondig nie.
De Klerk Vermaak & Partners sê Vermaak was ’n gerespekteerde prokureur, kollega en individu wat sy beroep met integriteit, toewyding en professionaliteit beoefen het. Sy bydrae tot die regsberoep en die lewens wat hy aangeraak het, sal altyd onthou word.
Vennote van Vermaak, Van Drunick & Van Den Berg Prokureurs beskryf hom as ’n toegewyde regspraktisyn wie se integriteit, toewyding en passie vir die reg duidelik was in alles wat hy gedoen het. “Benewens sy professionele uitnemendheid was hy ’n goedhartige siel, ’n lojale vriend en iemand wat ’n blywende indruk gelaat het op almal wat bevoorreg genoeg was om hom te ken.”
Goeie vriend en pa
Johann Viljoen, ’n vriend van Vermaak, sê wanneer hy aan hom dink, is die eerste ding wat by hom opkom sy lag. “Hy het altyd gelag en wanneer jy hom ook al gesien het, het hy ’n glimlag op sy gesig gehad.
“Hy was altyd daar vir sy vriende – jy kon hom enigiets vra en hy sou uit sy pad gaan om te help, nie net sy vriende nie, maar ook ander mense.” Volgens Viljoen was Ockert lief vir motorfietsry, en dit was iets waaroor hy passievol was.
“Hy was ook ’n baie goeie pa vir sy seuntjie. Hy het vir sy seun geleef en kon nooit wag om tyd saam met hom deur te bring en dinge saam te doen nie.”
Johann en Ockert het graag saam gholf gespeel. Foto verskaf
Hy sê Ockert het alles met geesdrif aangepak. Hy was baie avontuurlustig – die een oomblik sou ’n mens hom sien duik, dan jag, dan roei speel. Hy was besonder aktief en altyd besig met iets waarvan hy gehou het.
“Ockert was net ’n baie goeie mens en ’n goeie, goeie vriend. Jy het hom altyd met ’n glimlag en ’n lag, en wanneer hy ’n kamer binnestap, het hy dit opgehelder. So sal ons hom altyd onthou – met ’n glimlag op sy gesig en lag in sy oë.”
Vermaak se diens vind op 19 Januarie om 11:00 in die Kompas Gemeente op Vanderbijlpark plaas.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

