On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Skuiling bied heenkome vir Noordwes se hawelose diere

───   15:23 Thu, 15 Jan 2026

Skuiling bied heenkome vir Noordwes se hawelose diere | News Article
Ian Smit (regs) is dankbaar oor al die ondersteuning wat Paws Haven van die publiek ontvang, soos dié vrag van die Laerskool Baillie Park. Foto: Facebook

Elke dier se swaarkry-storie raak ’n mens diep. “Tog fokus ons daarop om professioneel te bly en die beste moontlike sorg aan elke dier te bied.”

So vertel Ian Smit, bestuurder van die diereskuiling Paws Haven in Potchefstroom, van sy werk. Vir hom is dit ’n passie wat hy vir niks sal verruil nie.

Smit en sy span praat met groot dankbaarheid oor die ondersteuning wat hulle van die publiek ontvang om die versorging van sowat 750 honde en 200 katte op die perseel makliker te maak. Hulle sien selfs om na perde en donkies wat onder mishandeling deurgeloop het.

“Ons ondersteun mekaar deurentyd as ’n span; ons deel die las en ons bly positief.”


Paws Haven het op 4 Junie oopgemaak ná die oorname van die vorige skuiling, Paws. “Ons het voortgebou op die bestaande fondament, maar met hernude fokus op dierewelsyn en nog sterker gemeenskapsbetrokkenheid as voorheen.”

Vir Smit is dit altyd ’n riem onder die hart om die getuienis van lede van die publiek te hoor wat ’n dier by hulle aangeneem het. “Nie net is die oorweldigende blydskap van die nuwe eienaar tasbaar nie, dit is ook sommer van daardie ‘behoort nou aan’-oomblik sigbaar én hoorbaar by die dier wat huis toe gaan!”

Saartjie Scholtz, eienaar van die Oudewerf-gastehuis in Potchefstroom, gesels graag oor haar meer as 36 jaar lange verbintenis met Paws, en nou ook Paws Haven. “Diertjies wat ’n tweede of derde kans in die lewe kry, is die dankbaarste wesentjies op aarde.”

Die 200 katte wat tans ’n veilige hawe by Paws vind, word liefdevol versorg. Foto: Facebook/Paws Haven Potchefstroom

Dié sakevrou open ’n hart so groot soos ’n kasteel wanneer enige gesprek rondom ’n verwaarloosde hond of kat begin draai. “By dié skuiling vind jy nie bloot net werkers nie, hulle is engele wat elkeen ’n monument in die hemel verdien.”

Die span wat Smit bystaan is die veeartse, drs. Francois en Wendy Gerber, die administratiewe beampte, Charlene Pretorius, en die versorger, Lloyd Mkandiwile.

Oudewerf se boomryke tuin wemel van die honde, groot en klein. Die meeste het hul weg gevind van ’n diereskuiling af tot hier op die werf, wat vir hulle hemel op aarde is. Saartjie lag toe twee katte ook kom groet.

Daar is tans 750 hawelose honde wat by Paws versorg word. Foto: Facebook/Paws Haven Potchefstroom

“Ek het Paws besoek met die oog daarop om ’n kat aan te neem wat my sou help om die muise hier op die werf uit te roei. Ék het nie vir Pepper aangeneem nie. Hy, met die grasgroen oë, het mý onmiddellik aangeneem!” En die uiteinde? Saartjie is nie net met Pepper huis toe nie. Soutie, die sku klein katjie in die hokkie langsaan, is ook in die motor gelaai!

Smit is nie slegs die bestuurder van Paws Haven nie; hy is ook ’n opgeleide diere-inspekteur. Hy moet toesien alles geskied volgens dierbeskermingswetgewing en behartig sake van diereverwaarlosing en -wreedheid. Baie daarvan gaan eindelik hof toe.

“Ook moet ek dikwels ’n perseel besoek en dan die besluit neem om die verwaarloosde dier summier daar weg te neem.”

Lloyd Mkandiwile, versorger by Paws, hanteer dié hond wat onlangs, besmeer met motorolie iewers langs die pad gevind is, met groot liefde. Foto: Facebook/Paws Haven Potchefstroom

Sonder die publiek se hulp en vrygewigheid sou hulle nie die mas opgekom het nie, beklemtoon Smit. “Ons is baie afhanklik van skenkings wat kos, komberse en geldelike bystand insluit. Sonder die twee veeartse wat hier op die perseel na ons diere se gesondheid omsien, sou ons ook nie die pyp kon rook nie.”

Met Snowy, Bubbles, Jack en Jill, Pepper, Soutie en Buddy wat deesdae so sorgeloos leef op die Oudewerf dink ek weer aan die diere wat in haglike toestande by Paws Haven aankom en dan met net soveel liefde en sorg dáár hanteer word.

“Dit is juis die verskil wat óns, hoe klein of groot aan elke dier wat hier aankom kan maak, wat ons gemotiveerd hou vir ons groot en moeilike taak,” verduidelik Smit.

Vir Saartjie Scholtz, eienaar van die Oudewerf-gastehuis op Potchefstroom, bring haar aangenome honde baie vreugde. Hier is sy saam met Jill, Bubbles, Snowy en Jack. Foto verskaf

Het Smit ’n boodskap van hoop wat hy wil uitdra? “Ons boodskap is eenvoudig. Elke dier se lewe het waarde.

“Elke redding, elke aanneming en elke daad van omgee wys dat verandering van omstandighede wel moontlik is. Met die gemeenskap se ondersteuning kan ons aanhou om hoop te skep en te bring.

“Deernis maak altyd van die wêreld ’n beter plek.”

 Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Elsabé de Jager cvs


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.