Central SA
Luiperd ontsnap glo noord van Bloem─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:57 Fri, 16 Jan 2026
Die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling doen ’n beroep op die publiek om waaksaam te wees ná berigte dat ’n luiperd moontlik ontsnap het en noord van Bloemfontein gesien is.
Volgens die departement is daar Vrydagoggend (16/1) aangemeld dat die dier in die Glen-omgewing waargeneem is. Die luiperd is glo gesien in die gebied tussen die Glen-landboukollege en die N1, langs die R30, sê Festy Nyamate, die departement se woordvoerder.
Natuurlewedeskundiges van die departement is tans in die gebied besig om die dier op te spoor en op ’n veilige wyse te vang.

Foto ter illustrasie: Pexels
Die departement is in kennis gestel nadat ’n lid van die publiek amptenare gekontak het om die beweerde waarneming aan te meld. Die persoon wat die inligting verskaf het, is intussen ondervra as deel van die ondersoek.
Waarneming nog nie bevestig
Die waarneming is egter nog nie bevestig nie. “Die deskundiges het die luiperd nie self gesien nie, en daar was ook geen bykomende inligting van ander lede van die publiek nie. Ons sal voortgaan om die inligting te verifieer terwyl die situasie noukeurig gemonitor word,” sê Nyamate.
In November 2024 is ’n luiperd in ’n inwoner se erf in Wesselsbron aangetref. Niemand is tydens die voorval beseer nie.
Daar is destyds beweer dat meer as een luiperd gesien is, maar die polisie het later tot die gevolgtrekking gekom dat dit waarskynlik dieselfde dier was wat tussen Wesselsbron, Ventersburg en Kroonstad beweeg het. Met die hulp van die DBV en ’n plaaslike veearts is die luiperd destyds gevang en in veilige bewaring geneem.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

