On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
Show Background
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

Minister besoek vloedgeteisterde Krugerwildtuin

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:18 Sun, 18 Jan 2026

Minister besoek vloedgeteisterde Krugerwildtuin | News Article
Willie Aucamp kondig ’n fonds aan om te help met die heropbou van die Krugerwildtuin. Foto verskaf

Die minister van bosbou, visserye en die omgewing het Saterdag (16/1) die Krugerwildtuin besoek.

Willie Aucamp het die skade bepaal wat deur aanhoudende reënval veroorsaak is en met Sanparke se bestuur en noodspanne vergader. Sy besoek vorm deel van voortgesette pogings om die situasie noukeurig te monitor ná swaar reën in dele van Mpumalanga en Limpopo, sê Rey Thakhuli, Sanparke-woordvoerder.

Die Krokodil-brug is erg beskadig. Foto verskaf

“Terwyl ons groot ontwrigtings en skade gesien het as gevolg van die swaar reën oor die afgelope paar dae in Mpumalanga en Limpopo was die goed beplande en uitgevoerde reaksie nog meer ongelooflik om te aanskou,” sê Aucamp. 

“Ons vroeë waarskuwingstelsels het beteken die noodspanne kon betyds optree om personeel en gaste op ’n gekoördineerde wyse te verwyder.”

Die Letaba-rivier. Foto verskaf

Aucamp het die span ook geprys vir die fokus op veiligheid ten spyte van groot ontwrigtings en beskadigde infrastruktuur, asook pad- en heksluitings en onderbrekings in elektrisiteit en ander basiese dienste. 

“Terwyl die wildtuin groot ontwrigtings as gevolg van aanhoudende reënval ervaar het, het ons spanne vinnig opgetree nadat vroeë waarskuwingstelsels geaktiveer is om die veilige verwydering van personeel en gaste te verseker,” sê Thakhuli.

Die veiligheid van alle besoekers, personeel en infrastruktuur bly Sanparke se prioriteit. Dagbesoeke aan die Krugerwildtuin is tot verdere kennisgewing nie moontlik nie.

Hy sê toegang tot die wildtuin is beperk tot noodsaaklike afleweringsvoertuie, diegene met geldige vliegtuigkaartjies, amptenare en gaste met bevestigde verblyfbesprekings by Berg-en-Dal, Skukuza en Pretoriuskop.

Die laagwaterbrug is heeltemal oorspoel. Foto verskaf

Alle wildritte is ook as ’n voorsorgmaatreël opgeskort en niemand mag die wandelpaaie gebruik nie. Sanparke gaan ook die Kruger-hulpfonds stig om te help met heropbou, noodvoorrade en ander dringende behoeftes.

“Die fonds sal onafhanklik bestuur en geoudit word om deursigtigheid te verseker. Die besonderhede sal binnekort bekendgemaak word.” 

Besoekers moet let op amptelike opdaterings aangesien toestande vinnig kan verander. “Ons is dankbaar geen lewensverlies is aangemeld nie en ontruimings het glad verloop.”

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.