On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Nuwe hoof bring visie, ervaring na Vrystaatse skool

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:11 Thu, 22 Jan 2026

Nuwe hoof bring visie, ervaring na Vrystaatse skool | News Article
Derrick de Clerk. Foto verskaf

’n Vrystaatse skool se nuwe hoof wil die instelling omskep in ’n sentrum van akademiese, sport- en landboukundige uitnemendheid.

Met meer as 20 jaar ondervinding is Derrick de Clerk vasbeslote om ’n blywende nalatenskap te skep. Die 42-jarige het Maandag (19/1) amptelik by die Hoërskool President Steyn begin.

Tot dusver het hy die personeel, leerlinge en gemeenskap as baie positief ervaar. Hy glo die skool het potensiaal om ’n belangrike rol in Bloemfontein te speel.

Dis dié boorling van De Aar se tweede ampstermyn as skoolhoof nadat hy voorheen die Hoërskool Sandveld op Wesselsbron gelei het.

Passie vir leerders

Hy is die jongste van drie kinders en het in 2001 aan die Hoërskool De Aar gematrikuleer. “Ek was lief vir sport en het aan soveel sportsoorte as moontlik deelgeneem. Terwyl ek as sportorganiseerder by my vorige skool gewerk het, het ek my studie deur middel van afstandsonderrig aan die (destydse) Puk voltooi,” sê Derrick.

Hy het ’n Nasionale Diploma in onderwys en ’n gespesialiseerde sertifikaat in onderwys en het sy onderwysloopbaan in 2005 aan die Hoërskool De Aar begin, waar hy Afrikaans en geografie onderrig het. Dit was daar waar ek my passie ontdek het om leerders te help om hul volle potensiaal te bereik.”

Volwaardige landbou-instelling

Van 2019 tot 2023 het hy as departementshoof aan die Hoërskool Hoopstad gedien. “Nou, by President Steyn, stel ons reeds landbouvakke bekend, en my visie is die skool moet ’n volwaardige landbou-instelling word.“

Hy is ambisieus oor die skool se toekoms. “Ek wil hê President Steyn moet een van die beste gekombineerde skole in die Vrystaat wees. Wanneer ek eendag die skool verlaat, wil ek sien dat hierdie visie 100% funksioneer – ’n skool wat bekend is vir uitnemendheid, geleenthede en groei.”

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.