Central SA
Bejaarde man van Vaalpark verdwyn op pad na Rustenburg─── REFILWE BEKANE 10:00 Sun, 25 Jan 2026
Die polisie op Sasolburg doen ’n beroep op die publiek om te help in hul soektog na Johan Fourie (74).
Fourie van Vaalpark, Sasolburg, is as vermis aangemeld nadat hy nie by sy beplande bestemming opgedaag het nie. Die polisie sê Fourie het Dinsdag (20/1) omstreeks 11:30 sy huis verlaat.
Hy was onderweg na Rustenburg om sy seuns te besoek en het in ’n swart Toyota RunX gereis.
“Omstreeks 18:00 dieselfde dag het Johan se lewensmaat sy seuns gekontak om te verneem of hy veilig gearriveer het. Sy moes toe hoor hy het nooit by hulle opgedaag nie,” sê sers. Josephine Rani, polisiewoordvoerder.
Sy suster het later inligting aan die polisie verskaf dat hy moontlik op Orkney gesien is. Sy familie het sedert sy vertrek hom gereeld probeer bel, maar sy selfoon is nooit beantwoord nie.
Die polisiekantore in die Vrystaat en Noordwes is reeds oor sy verdwyning ingelig om te help met die soektog. Hy was ten tyde van sy verdwyning geklee in ’n swart formele langbroek, ’n swart-en-blou hemp en swart tekkies.
Kontakpersoon
Die speurders op Sasolburg het ’n primêre kontakpersoon vir die saak aangewys. Enigiemand met inligting oor waar Fourie hom mag bevind, word dringend versoek om Patricia Filda, ondersoekbeampte, by 083 715 2545 te bel.
Die publiek kan ook Stop Misdaad by 08600 10111 bel of anonieme wenke vanaf ’n slimfooon stuur na die MySAPS-app.
Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuuslyn: 066 487 1427.
OFM Nuus dg

