Central SA
Sorgoord-aanranding: Twee beskuldigdes verander van prokureurs─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:50 Fri, 30 Jan 2026
Twee van die ses mense wat daarvan beskuldig word dat hulle ’n 81-jarige in ’n Vrystaatse versorgingsoord aangerand het, het aan die hof gesê hulle wil van gedeelde regsverteenwoordiging na ’n ander prokureur verander.
Die saak is Vrydag (30/1) tot 2 Maart uitgestel sodat die nuwe prokureur, wat nog nie bekend gemaak is, die dossier kan ontvang en alle bewyse hersien. Die beskuldigdes, Lynette Brummer (64), Anna Fourie (73), Mapaseka Majorobella (35), Nomsa Ngcongwane (55), Ntswaki Mofolo (30) en Puseletso Moloi (33), is almal oudwerknemers van die Silver Village-versorgingsoord.
Hulle staan tereg op aanklagte van poging tot moord, ontvoering en aanranding met die doel om ernstige liggaamlike leed te veroorsaak.

Anna Fourie en Lynette Brummer in die hof. Foto: Charne van der Merwe
Ngcongwane en Majorobella sal met die volgende verskyning deur dieselfde prokureur verteenwoordig word as Mofolo en Moloi nadat hulle van regshulp verander het
’n Bron, wat naamloos wil bly, sê die verandering van prokureur is ’n taktiek “om tyd te wen”. Die bron het voorheen bevestig minstens 40 video-opnames hou verband hou met die aanranding van Bettie Payne wat as bewysstukke ingedien sal word.
Beeldmateriaal van 7 Julie wys glo hoe Brummer na bewering pille in Payne se mond forseer, in haar gesig blaas, haar neus toeknyp en op haar spoeg nadat sy medikasie geweier het. Toe Payne begin skree, het Brummer na bewering met kleefband teruggekeer en dit om Payne se mond en kop gedraai.
Sigbare kamera
Payne se dogter, Mariana, het kort voor die voorval ’n kamera in haar ma se kamer geïnstalleer nadat sy vermoed het iets skorts.
Tydens vroeëre hofverrigtinge het ao. Anja Tait, die ondersoekbeampte, getuig die kamera was sigbaar en die personeel was daarvan bewus. Beeldmateriaal impliseer glo ook die ander beskuldigdes.
Fourie het na bewering die kamer met ’n selfoon binnegekom terwyl Payne om hulp geskree het. Twee personeellede het na bewering staan en toekyk.

Bettie Payne en haar dogter Mariana. Foto verskaf
Brummer word voorts daarvan beskuldig dat sy Payne met ’n kombers toegemaak het, gesê het niemand sou haar hoor nie, die ligte afgeskakel het en die kamer verlaat het.
Ná die voorval het Fourie bedank, en die ander werknemers is ná tugverhore ontslaan. Brummer, wat ’n senior pos by die versorgingsoord beklee het en ook ’n aandeelhouer was, word as die hoofbeskuldigde beskou.
Sy is op borgtog van R5 000 vrygelaat onder streng voorwaardes, insluitend om minstens 100 m van die versorgingsoord af te bly en haar paspoort in te dien. Die ander vyf beskuldigdes is elk op borgtog van R1 000 vrygelaat.

Bettie Payne se hande. Foto verskaf
Die verdediging het voorheen die wettigheid van die arrestasies bevraagteken en beweer dat die staat die verrigtinge vertraag het. Tait se beëdigde verklaring en vertroue op videobewyse is ook betwis.
Die hof het die borgtogvoorwaardes vir al ses beskuldigdes verleng.
Die hof het ’n versoek van die verdediging om die neem van foto’s tydens verrigtinge te verbied, van die hand gewys. Die landdros het gesê geen wetlike gronde bestaan vir so ’n verbod nie en opgemerk het dat hoër howe foto’s in soortgelyke omstandighede toelaat.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

