On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Laurika
Show Background
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Parkeerterrein-moord: Saak uitgestel vir oorplasing na hoër hof

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:20 Sat, 31 Jan 2026

Parkeerterrein-moord: Saak uitgestel vir oorplasing na hoër hof | News Article
George (69) Koster en sy vrou, Wilma (55), is in die parkeerterrein van die Platinum Square-winkelsentrum in Rustenburg doodgeskiet. Foto’s: Facebook

Die twee mans wat aangekla word van die moord op ’n Noordwes-egpaar op die parkeerterrein van ’n Rustenburgse winkelsentrum, sal weer op 6 Maart in die hof verskyn.

Onke Bongo (31) en Gift Tinyiko Mhlanga (29), wat daarvan beskuldig word dat hulle George (69) Koster en sy vrou, Wilma (55), vermoor het, het Donderdag (29/1) in die Rustenburg-streekhof verskyn. Daar word verwag die saak sal na die hooggeregshof oorgeplaas word vir verhoor.

Bongo en Mhlanga staan tereg op aanklagte van moord nadat die Koster-egpaar op 14 Junie verlede jaar doodgeskiet is in die parkeerterrein van die Platinum Square-winkelsentrum in Rustenburg.

Hulle word ook aangekla van regsverydeling nadat hulle na bewering van die toneel gevlug het in ’n Kia-voertuig en probeer het om dit by Mhlanga se woning weg te steek.

Die beskuldigdes is op 21 Oktober op borgtog van R5 000 elk vrygelaat, nadat hulle geappelleer het teen die beslissing van ’n landdros wat dit geweier het. Die staat het nie die borgtogappèl teengestaan nie.

“Die beskuldigdes se regspan het nie die korrekte prosedure gevolg toe hulle hul appèlaansoek ingedien het nie,” het Sivenathi Gunya, NVG-woordvoerder, vroeër aan OFM Nuus gesê. “Hulle het versuim om hul betoë in te dien voordat die verhoor plaasgevind het.”

Bongo en Mhlanga is op 17 Junie in hegtenis geneem. Hul eerste borgtogaansoek is op 15 Julie geweier weens kommer dat hulle getuies sou intimideer.

Primêre versorgers

“Die twee het aangevoer hulle is die primêre versorgers van minderjarige kinders, het geen vorige veroordelings of hangende sake teen hulle nie. Hulle het ook hul samewerking gegee,” sê Gunya.

“Die regter in die hooggeregshof het beslis die landdros het fouteer deur borgtog te weier en onnodige waarde te heg aan ongegronde bewerings dat Mhlanga na Mosambiek sou vlug.

“Die regter het ook bevind albei beskuldigdes het ’n huisadres, stabiele werk en sterk familiebande in Suid-Afrika. Geen bewyse is aangebied dat een van hulle ’n paspoort besit of ’n vlugrisiko is nie.”

‘Bongo het Koster na bewering doodgeskiet waarna Mhlanga met die Kia agteruit begin ry het’

As deel van hul borgtogvoorwaardes moet Bongo en Mhlanga een keer per week by die Rustenburg-polisiekantoor aanmeld en word hulle streng verbied om getuies te nader of in te meng met die voortgesette ondersoek.

In ’n vroeëre hofverskyning het lt.kol. Patrick Murunwa, ondersoekbeampte, getuig die beskuldigdes het in ’n wit Kia by die winkelsentrum aangekom en langs die Kosters se silwer Jeep geparkeer.

Volgens sy getuienis het Bongo na bewering die Kia se deur oopgemaak en die Jeep getref. George het uitgeklim om die skade te ondersoek en ’n woordewisseling het gevolg.

“Bongo het Koster na bewering doodgeskiet waarna Mhlanga met die Kia agteruit begin ry het,” sê Gunya. “Wilma het toe die Kia se linkeragterruit gebreek en Bongo het haar na bewering ook geskiet.”

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuuslyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.