Central SA
Mengsel van ou en nuwe leiers vir DA in Vrystaat voor verkiesing─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:15 Sun, 01 Feb 2026
Hoofsaaklik nuwe leiers gaan die DA in die Vrystaat in die opbou na vanjaar se munisipale verkiesing lei.
Die DA in die Vrystaat het sy nuwe leierskap verkies op sy provinsiale kongres Saterdag (31/1) in Bloemfontein. Die kongres word deur die party as suksesvol beskryf.
Dr. Roy Jankielsohn is onbestrede herkies as provinsiale leier, soos ook David van Vuuren as finansiële voorsitter. Die nuutverkose lede van die leierskapspan is die provinsiale voorsitter, Werner Pretorius, en die adjunkvoorsitters, Jafta Mokoena en Mbali Mnaba.
Afgevaardigdes van regoor die provinsie het saamgekom vir dié kongres waarop die party se diversiteit, groei en verenigde visie vir die Vrystaat beklemtoon is, sê die DA.

Werner Pretorius, provinsiale voorsitter van die DA in die Vrystaat. Foto verskaf
Afgevaardigdes het oor sleutelkwessies rakende die party se rigting en strategie gepraat en die versekering gegee die party bly sterk en is gereed om effektiewe regering aan inwoners te bied.
“Inwoners van die Vrystaat verdien die voordele wat met DA-beheerde regerings gepaard gaan,” sê Jankielsohn. “Ons is vol vertroue dat hierdie bekwame leierskapspan die provinsie na ’n heel nuwe vlak sal neem.”

Mbali Mnaba is ’n nuwe adjunkvoorsitter van die DA in die Vrystaat. Foto verskaf
Hy sê die DA se leierspan berei nou voor op kragtig verkiesingsveldtogte in munisipaliteite regoor die provinsie, met die doel om die party as die oorheersende politieke mag in die streek te vestig.
Op die vraag hoe die party verseker sy verteenwoordigers bly in voeling met die mense, veral omdat baie kiesers voel daar word net na hulle geluister tydens verkiesings, sê Jankielsohn die DA se verteenwoordigers is meer betrokke by die lewe van gewone burgers as dié van enige ander party.

Jafta Mokoena is ook tot adjunkvoorsitter verkies. Foto: verskaf
“Die raadslede is sterk teenwoordig in hul gemeenskappe. Raadslede word nie net op grond van raadswerk beoordeel nie, maar ook op grond van hul gemeenskapsbetrokkenheid voordat hulle vir herverkiesing kan staan.”
Die kongresgangers het ook die DA se verbintenis tot deursigtigheid, verantwoordbaarheid en gemeenskapsgerigte bestuur bevestig. Die leiers het die belangrikheid beklemtoon om na inwoners se behoeftes te luister in die aanloop tot die verkiesing.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

