On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse kleuter gegroet 40 dae ná hy in swembad beland

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:34 Wed, 04 Feb 2026

Vrystaatse kleuter gegroet 40 dae ná hy in swembad beland | News Article
Noah Hewetson. Foto: Facebook

’n Vrystaatse kleuter wat meer as ’n maand in die hospitaal was nadat hy gedurende die feestyd in ’n swembad geval het, word Saterdag (7/2) tydens ’n lewensviering gegroet.

Noah Hewetson (2) is Maandag (2/2) oorlede ná 40 dae in die Bloemfontein Mediclinic. Hy het op Oukersdag in die gesin se swembad geval.

Arms of Mercy, ’n organisasie wat fondse vir kinders se mediese uitgawes insamel, het sy meegevoel met Noah se familie op Facebook gedeel. “Soos in die dae van Noag in die Bybel, het dit 40 dae en 40 nagte gereên, en toe het die reên opgehou. 

Noah Hewetson. Foto verskaf

“Noah, dit het 40 dae gereën en vandag, op die 40ste dag, het God jou huis toe geroep. Jy sal vir ewig in ons harte leef,” lui die plasing.

Volgens die organisasie was Noah se ma, Chantelle Caldeirain, besig in die huis toe sy opgemerk het dat Noah stil geraak het. Sy het hom begin soek en hom in die swembad gevind. 

Sy het dadelik met kardiopulmonêre resussitasie (KPR) begin.

Jean Hewetson, Noah se pa en Caldeirain se verloofde, het huis toe gejaag en nooddienste ontbied. Terwyl hulle vir die ambulans gewag het, het hulle Noah in hul motor gesit en gery om noodpersoneel tegemoet te gaan.

Hy is daarna geïnkubeer en in die hospitaal opgeneem, waar hy in ’n koma was en aan ’n ventilator gekoppel is. Noah se lewensviering sal om 13:00 in die Woodland Hills-gemeenskapkerk plaasvind.

In twee afsonderlike voorvalle is nog twee Bloemfonteinse kleuters dood nadat hulle in die Bainsvlei-gebied verdrink het. Timothy-John du Plessis (16 maande) het op 2 Januarie verdrink, en Hanru David Venter (1) twee dae voor Kersfees.

Kinderveiligheid by water

Swembadveiligheid

  • Maak seker die swembad is volledig omhein met ’n selfsluitende hek wat aan SABS-vereistes voldoen. 
  • Moenie die swembadhek oop los of oopstut nie. 
  • Vermy voorwerpe naby die heining waarop kinders kan klim. 
  • Die slot moet kinderveilig wees.

Swembadseile

  • Gebruik ’n net of stewige seil wanneer niemand swem nie.
  • Verseker dit word korrek gebruik en gereeld versien.

Swembadalarms

  • ’n Swembad- of hekalarm kan waarsku as iemand die water nader.
  • Gebruik dit saam met ander veiligheidsmaatreëls.

Hou jou kind só veilig in en om water | News Article

Moet nooit net op swemspeelgoed of -lesse staatmaak om jou kind te beskerm nie. Foto: Babyology

Jou optrede

  • Swemlesse is belangrik, maar nie genoeg nie.
  • Geen kind is ooit heeltemal veilig van verdrinking nie.
  • Kinders mag nooit sonder toesig swem of naby water speel nie.
  • Vermy enige afleidings wanneer jy toesig hou oor kinders in die water.
  • Leer kardiopulmonêre resussitasie (KPR) sodat jy voorbereid is in ’n noodgeval.
  • Sodra kinders oud genoeg is, laat hulle oefen om met hul klere aan te dryf.
  • Leer jou kind om nooit in onbekende water te duik of in te spring of waar ander swemmers in die pad is nie.

Eenvoudige maatreëls kan ’n jong lewe red. Foto: iStock

Nog wenke deur NetCare911

  • Moet nooit ’n kind alleen in die bad los nie.
  • Gebruik ’n glyvaste mat in die bad.
  • Hou toilette toe met ’n veiligheidsknip.
  • Maak baddens, emmers en klein poele leeg ná gebruik, en moenie dit laat rondstaan nie.
  • Maak seker jou visdam is beveilig.
  • Verseker visdamme en jacuzzi’s is ontoeganklik.
  • Beveilig toegang tot riviere of damme.
  • Gebruik altyd reddingsbaadjies op bootvaarte.
  • Hou jou kinders fyn dop op die strand fyn, en swem net waar lewensredders aan diens is.
  • Leer jou kind die noodnommers, en maak seker dat enige kinderoppasser hierdie nommers ken en verstaan wat om te doen in ’n noodgeval.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.