Central SA
Bloemfonteinse ma gevonnis weens kindermishandeling, verwaarlosing─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:44 Thu, 05 Feb 2026
’n Bloemfonteinse ma het beken sy het haar kinders mishandel en verwaarloos voordat sy gevonnis is.
Die ma (34), wie se identiteit nie bekendgemaak kan word om die kinders s’n te beskerm nie, is tot tien jaar gevangenisstraf gevonnis op drie aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer, aanranding en kinderverwaarlosing. Die vonnisse moet samelopend uitgedien word.
Sy het Vrydag (30/1) in die stad se streekhof verskyn, sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder.
Noodoperasie
Die misdade van die ma en haar medebeskuldigdes, haar kêrel en hul huismaats, Adriaan Cornelius Seriven en Wendy Nel, het in September 2024 aan die lig gekom toe die ma haar toe tweejarige kind na die Pelonomi-hospitaal geneem en beweer het hy het geval.
’n Noodoperasie moes uitgevoer word vir veelvuldige beserings, waaronder ernstige gesigbeserings. Mediese personeel het onraad vermoed toe hulle vasstel die peuter se beserings stem nie ooreen met ’n val nie. Hulle het die polisie ontbied.

Betogers met 'n vorige verskyning buite die hof. Foto: OFM Nuus
Nadere ondersoeke het aan die lig gebring die seun (nou 3) se sibbes (nou 6, 7 en 11) is na bewering ook aangerand en verwaarloos. Al vier kinders is uit die huis verwyder en in ’n plek van veiligheid geplaas, waar hulle steeds sorg ontvang.
Die ma, Seriven en Nel is voorheen borgtog geweier omdat niemand by die adresse wat hulle verskaf het, hulle wou huisves nie.
Die kêrel, wat ook nie geïdentifiseer mag word nie, is later op borgtog van R1 000 vrygelaat. Hy is verteenwoordig deur Greg Nel, wat deur sy ma, wat in Engeland woon, aangestel is. Die ander beskuldigdes maak van Regshulp SA gebruik.

Adriaan Cornelius Seriven (regs) en Wendy Nel in die hof. Die ma se kêrel (links) se naam mag nie bekend gemaak word nie. Foto: OFM Nuus
Die ma se saak is voorheen geskei van dié van die ander beskuldigdes nadat sy haar voorneme aangedui het om skuld te beken. .
Volgens Senokoatsane het die ma in haar pleitverduideliking gesê sy was onder die invloed van dwelms ten tyde van die voorval en het doelbewus versuim om te voorsien in die kinders se basiese behoeftes.
Sy beken sy het die een kind se kop onder water gehou en haar verskeie kere met ’n gordel geslaan nadat die kind haar bed natgemaak het.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427

