On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Sol Plaatje kry blaam ná ‘held’ verlam is wat glo kinders red toe tenk val

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:16 Fri, 06 Feb 2026

Sol Plaatje kry blaam ná ‘held’ verlam is wat glo kinders red toe tenk val | News Article
Sabata Winston Katsio is ernstig beseer toe hy drie kinders uit die pad van ’n vallende watertenk gestamp het. Foto verskaf

Aanspreeklikheid word geëis nadat ’n Noord-Kapenaar verlam is toe ’n watertenk in die Ritchie-omgewing op hom geval het terwyl hy drie kinders wou beskerm.

Sabata Winston Katsio (40), DA-takvoorsitter in wyk 26, het sy liggaam as skild gebruik om die drie kinders van ’n gewisse dood te red. Hy lê nou verlam en in ’n kritieke toestand in ’n staatshospitaal nadat die 2 500 liter-watertenk op hom geval het.

Die DA eis die Sol Plaatje-munisipaliteit moet volle verantwoordelikheid aanvaar vir die tragiese voorval waarin Katsio die lewensgevaarlike beserings opgedoen het, sê Elize Niemann, DA-koukusvoorsitter in die munisipaliteit.

Die voorval het Dinsdag (3/2) in Motswedimosa, Ritchie, plaasgevind toe Katsio drie klein kinders gesien het onder ’n JoJo-watertenk.

“Die tenk was op ’n onstabiele raam gemonteer en op gladde, nat gras geplaas. Hoewel Katsio daarin geslaag het om die kinders betyds uit die gevaarsone te stamp, het die 2 500 liter-tenk op hom geval,” sê Niemann.

Die tenk nadat dit geval het. Foto verskaf

Katsio het ’n gebreekte rug, heup en nek asook ernstige inwendige beserings opgedoen. Hy word tans in die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal behandel, waar sy toestand steeds kritiek is.

Niemann sê die gebeure was onnodig. Die situasie is hartverskeurend. “Katsio is tans in ’n baie ernstige toestand. Hy is verlam en sy niere het opgehou funksioneer.

“Hy verkeer in erge pyn, en hoewel hy by sy bewussyn is, het hy geen gevoel in sy bene nie, aangesien sy rug op twee plekke gebreek is. Een van sy ribbes het ook sy long deurboor, wat beteken dat hy tans met ernstige asemhalingsprobleme sukkel.”


Elize Niemann, DA-koukusvoorsitter in Sol Plaatje. Foto verskaf

Volgens Niemann is hierdie tragedie die direkte gevolg van nalatigheid in die munisipaliteit se watervoorsieningsprogram. Groot dele van Ritchie is sedert 2018 sonder lopende water nadat Sedibeng Water aan pypleidings gewerk het.

In die spesifieke gebied waar Katsio woon, is daar sedert 2025 geen water nie, wat inwoners dwing om op hierdie tenks vir oorlewing staat te maak.

“Die munisipaliteit het Donderdag (5/2) die huis besoek waar die voorval plaasgevind het. Hulle het na bewering opmetings gedoen en versperrings opgerig terwyl hulle ondersoek instel, maar in hierdie stadium het hulle geen amptelike verklaring uitgereik nie. Ons sal dus moet wag en sien wat die uitslag is.”

Tenks se toestand skok

Die DA het sedertdien ander JoJo-tenks in die gebied nagegaan, wat almal deur dieselfde munisipale kontrakteur geïnstalleer is. Die bevindinge was skokkend, sê Niemann.

“Minstens twee ander tenks in die Mothlaku-gebied is op onstabiele rame aangebring, en kinders speel op hierdie gevaarlike strukture.” Ander tenks het gebreekte krane, wat dit nutteloos maak.

Niemann sê dit lyk asof daar geen besef van dringendheid by die munisipaliteit is nie. “Ek het Donderdag nog van die onveilige watertenks geïnspekteer, en die toestand bly presies dieselfde. Ek sien geen vordering of verbeterings nie.

“Dit lyk asof ’n mens ’n massiewe vuur onder hierdie munisipaliteit moet aansteek voordat hulle begin optree. Die DA sal egter voortgaan om druk uit te oefen en vrae aan die raad te stel.”

‘Ons is uiters bekommerd oor die behandeling wat hy ontvang’

Die party is veral ook bekommerd oor die gehalte van mediese sorg wat Katsio in die staatshospitaal ontvang.

“Die hospitaal het aan ons bevestig Katsio het ernstige interne beserings, maar hulle kan nie presies bepaal waar die bloeding vandaan kom nie. Ons is uiters bekommerd oor die behandeling wat hy ontvang.

“Ons wil hê die munisipaliteit moet betaal vir sy oordrag na ’n privaat hospitaal waar hy die nodige sorg kan ontvang, maar ek glo nie daar is enige kans dat dit sal gebeur nie,” sê Niemann.

Party staan gesin by

Sy belowe nietemin dat die DA die gesin sal bystaan.

“Ek het die gesin verseker ons sal nie terugstaan nie. Ons sal hulle bystaan om ’n eis teen die munisipaliteit in te dien, en ek sal persoonlik verseker dat hierdie saak nie onder die mat gevee word nie. Die munisipaliteit moet vir Katsio se beserings betaal.”

Die DA eis nou dat die senior bestuur verseker Katsio ontvang die beste moontlike mediese sorg en dat die kontrakteur, wie se identiteit bekend is, maar wat tans alle kommunikasie ignoreer, aanspreeklik gehou word.

OFM Nuus het die munisipaliteit om kommentaar genader.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.