Central SA
’Ek wil, ek kan, ek sal’ – gestremde van Bethlehem─── SUSAN MARÉ 10:48 Mon, 09 Feb 2026
’n Grusame ongeluk met ’n metaalbuigmasjien in 2014 het die lewe van ’n jong man van Bethlehem in ’n oogwink verander.
Conrad van Schalkwyk se regterhand is by die pols afgesny en in die hospitaal het hy die helfte van sy linkerarm weens gangreen verloor. Hy het gewerk met ’n masjien wat metaal buig.
Terwyl sy voet op die pedaal gerus het, het ’n stuk metaal ingegly waar dit nie moes nie. Sy poging om die metaal uit te haal en ’n nuk van die masjien juis op daardie oomblik, het sy lewe verwoes – of so het hy in daardie oomblikke gedink.
“Ek is ’n vrybloeier en het te midde van al die bloed nie gedink ek gaan dit maak nie,” vertel die 36-jarige.
“Ek is blitsvinnig gehelp om by die hospitaal uit te kom en al wat ek kan onthou, is dat ek Psalm 23 oor en oor opgesê het.”
Hy glo sy lewe is gered deur knap dokters. “Maar dit was vir my ’n traumatiese ervaring waaroor ek moeilik gekom het. Ek het jare lank geworstel om te kom tot waar ek vandag is.”
Ná twee maande in die intensiewesorgeenheid was hy ’n maand lank in rehabilitasie om die lewe weer aan te durf. “Nie uit myself nie, maar met krag en genade van Bo, het ek wel met verloop van jare daardeur gekom, al het ek baie met die Here geworstel.”
Maar in die tyd ná die ongeluk het hy ses keer sy eie lewe probeer neem. “Die gedagte dat ek ’n hulpelose gestremde is, iemand sonder hande, was verskriklik. Ek wou nie meer leef nie omdat ek so van hulp afhanklik was en niks vir myself kon doen nie.”

Met sy prostesehand en die vaardigheid van sy halwe ander arm kan hy alles doen wat nodig is, sê Conrad van Schalkwyk. Foto verskaf
Conrad vertel hy het ’n week voor die ongeluk ’n erediens in die Kransfontein-kerk van Jan Jooste tussen Bethlehem en Warden bygewoon. Daar, in die plaaskerk, het hy sy hart vir die Here gegee.
Eindelik sou hy op hierdie verhouding met God terugval om weer op te staan en vorentoe te beur.
Die omkeeroomblik in sy lewe was groots. Hy weet dis die Here wat hom na daardie oomblik gelei het toe hy besef het hy is nie ’n mens vir selfbejammering nie. Hy wil ook nie deur ander bejammer word nie. Hy moet opstaan.
“Ek wil, ek sal, ek gaan probeer. Dit is deel van my lewensleuse. Elke keer as ek Psalm 139 lees, besef ek hoe ’n noue verbintenis ek met die Here het.”

Conrad van Schalkwyk sê sy vrou, Surina, is die beste ding wat in sy lewe gebeur het. Foto verskaf
Hy is op Bethlehem gebore, maar het weens omstandighede op vyf jaar saam met sy suster in ’n kinderhuis in Johannesburg beland. “Ek was nie ongelukkig in die weeshuis nie.”
Conrad het die geleentheid gehad om in ambagte soos sweis- en metaalwerk, duikklopwerk en motorwerktuigkunde opgelei te word.
“Nou hou ek vas aan my Hemelse Vader, weier om moed op te gee en werk daaraan om nie negatief te word nie.
“Met my prostesehand en die vaardigheid van my halwe ander arm kan ek alles doen wat nodig is, selfs vir my vrou, Surina, help skottelgoed was, of produkte vir kliënte van die rak afhaal.

Conrad van Schalkwyk se toesighouer sê hy skryf die mooiste van al sy kollegas. Foto verskaf
Sy werk by VKB-groep se winkeltak op Bethlehem beteken vir hom baie. Sy ideaal is om nie net kennis en insig van sy afdeling te bemeester nie, maar om leergierig oor alles in die winkel te wees om kliënte ten beste te help.
Cedric Harris, assistent-bestuurder van die VKB se handelstak op Bethlehem en Conrad se afdelingshoof, praat met lof van hom en sê hy is vir al sy kollegas ’n voorbeeld van toegewydheid en inspirasies.
Hy het sy eie selfoon- en rekenaartegnieke,” sê Conrad. “Niks gaan my onder kry nie. En ja, ek kan al lank my eie kouse aantrek met my eie uitgedinkte truuk. Surina moet my wel help hempsknope vasmaak.
Sy is die beste ding wat in sy lewe gebeur het, vertel hy. Hulle is by die skone Drakensville in die berge getroud. Hy kon nie ’n beter lewensmaat gevra het nie.
“Surina vra soms of my hande dan rond is, dan lag ons saam. Humor en selfspot is die ligter oomblikke in ons lewe. Ek kan ook gemaklik eet met my prostesehand, met ’n kurktipe hulpmiddel om byvoorbeeld ’n lepel vas te hou.”
Dit is vir Conrad belangrik dat hulle ’n lewe van Godvresendheid sal lei waar hulle die Here eerste stel. Saam geniet hulle veral die mooi natuurskoon van die Oos-Vrystaat.
Plan met sy lewe
Sy raad aan ander gestremdes is dat hulle nooit sal moed opgee nie en vorentoe beur, ongeag wat vir hulle moeilik is, want aanhouers wen.
“Die Here was goed vir my. Ek is dankbaar dat ek ’n werk het, ’n wonderlike lewensmaat, kerkuitlewing, familie, vriende en soveel ander ondersteuning. As ek terugkyk sien ek die Here het nog altyd ’n plan met my lewe gehad.
“Dit maak my nederig en dankbaar.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

