On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

DA se nuwe burgemeesterskandidaat aangewys

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:30 Mon, 09 Feb 2026

DA se nuwe burgemeesterskandidaat aangewys | News Article
Werner Pretorius. Foto: DA

Die DA se burgemeesterskandidaat vir Mangaung sê dringende optrede is nodig om dié metro uit die waakeenheid te kry waar hy op sterwe lê weens ineenstortende dienste en finansiële wanbestuur.

Werner Pretorius is Maandag (9/2) in Bloemfontein as die DA se burgemeesterskandidaat vir die Vrystaat se enigste metro aangewys. Hy is ook onlangs aangewys as die provinsiale voorsitter van die DA in die Vrystaat, wat hom aan die voorpunt van die party se veldtog plaas om die regering in Mangaung reg te ruk. 

Pretorius sê sy verbintenis met Mangaung loop diep. Hy is “’n Bloemfonteiner in murg en been”. 

Sy politieke pad het begin as studenteleier aan die Universiteit van die Vrystaat, waar hy in die DA-studenteorganisasie en as SR-tesourier gedien het, tot ’n proporsionele raadslid, wyksraadslid en, sedert 2024 lid van die Vrystaatse Wetgewer. 

Hy het sê die aanvaarding van die burgemeestersbenoeming is ’n eer sowel as ’n ernstige verantwoordelikheid.

Die huidige toestand van die metro is volgens hom ’n klassieke geval van ’n mislukte metromunisipaliteit. “Mangaung word volgens bestuursprestasie-aanwysers as die swakste bestuurde metro in Suid-Afrika beskryf,” sê Pretorius.

Wydverspreide diensleweringsmislukkings, insluitend langdurige wateronderbrekings, verkleurde en onveilige watervoorsiening, ineenstortende padinfrastruktuur en herhalende rioolstortings is van die uitdagings. “Openbare geriewe soos swembaddens in Botshabelo, Heidedal en Dewetsdorp bly onbruikbaar, terwyl inwoners moet saamleef met agterstande in afvalverwydering en verwaarloosde openbare ruimtes.”

Pretorius sê die metro se ekonomie gaan ál verder agteruit. Nywerheidsgebiede sukkel, ondernemings verkeer onder druk en Bloemfontein se middestad verval.

“Die stadion wat die Mangaung bestuur, het sy akkreditasie verloor om geleenthede van wêreldstandaard aan te bied, terwyl atlete wat rekordprestasies behaal, internasionale erkenning geweier word weens gebrekkige geriewe.”

Wat munisipale finansies betref, bestee Mangaung 113% van sy begroting terwyl hulle slegs 50% van sy diensleweringsteikens bereik. In die vorige boekjaar is R324 miljoen in onreëlmatige bestee, R67 miljoen vrugteloos en verkwistend en R1,3 miljard ongemagtig.

Volgens Pretorius word slegs 2% van die kapitaalbegroting aan infrastruktuuronderhoud bestee, waterverliese staan op 48%, wat neerkom op byna R500 miljoen in verlore inkomste, terwyl elektrisiteitsverliese altesaam R274 miljoen beloop. “Dit is die erns van die krisis waarmee ons te kampe het.”

Die DA het ’n duidelike plan om die metro te stabiliseer en te herbou, sê Pretorius. “’n DA-beheerde Mangaung sal hom toespits op die herstel van finansiële dissipline, geen korrupsie duld nie, en toesien bekwame amptenare word aangestel.”

Werner Pretorius word geluk gewens deur Dr. Roy Jankielsohn, Vrystaatse DA-leier. Foto: Facebook

Om die basiese beginsels reg te kry, insluitend betroubare water- en kragvoorsiening, funksionele paaie, skoon strate en onderhoude openbare ruimtes, sal beleggings lok, sakegroei ondersteun, werkloosheid verminder en Mangaung as ’n spilpunt vir sport, kuns en kultuur laat herleef.

“Dis ook tyd vir Mangaung om die armes te prioritiseer, die infrastruktuur te beskerm en veilige, skoon omgewings vir gesinne en die gemeenskappe te skep.”

Pretorius beklemtoon die belangrikheid van die metro en sê die verantwoordelikheid wat op kiesers geplaas word, enorm is, aangesien Mangaung die Vrystaat se enigste metromunisipaliteit is. “As Mangaung werk, werk die Vrystaat.”

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe   mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.