On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Moontlike uitspraak verwag teen Goudveldse oudpolisiekaptein en vrou

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:00 Fri, 20 Feb 2026

Moontlike uitspraak verwag teen Goudveldse oudpolisiekaptein en vrou | News Article
Daniel en Anna Fourie buite die hofsaal. Foto: Charne van der Merwe

Die ses jaar lange hofstryd tussen ’n oudpolisiekaptein en sy vrou van die Goudveld sal na verwagting Vrydag (20/2) tot ’n einde kom wanneer die uitspraak gelewer word.

Daniel Jacobus en Anna Francina Fourie keer terug na die streekhof in Welkom. Hulle staan tereg op aanklagte van intimidasie en crimen injuria ná ’n langdurige vete met die broers Manny en José Jardim.

Die egpaar word ook daarvan beskuldig dat hulle verantwoordelik is vir die graffiti wat jare lank brûe, padtekens en mure oor die Goudveld heen ontsier het.

Hulle word ook aangekla van poging tot moord in verband met voorvalle waarin een van die broers se huise glo met ’n spykerbom aangeval is en skote daarop afgevuur is. ’n Kind is glo rakelings gemis.

Die Jardims is in hierdie graffiti geteiken. Foto verskaf

Die verdedigingspan en die staat het op 4 Desember hul slotbetoë aanbied. Tydens kruisondervraging deur adv. Allen Simpson, staatsaanklaer, op 3 November het Anna alle bewerings teen haar ontken, waaronder bewerings van teistering, intimidasie en die stuur van dreigende boodskappe aan lede van die Jardim-familie.

Die staat het aangevoer die egpaar se beweerde gedrag hou moontlik verband met vermoedens dat een van die klaers die pa van die egpaar se oudste seun is.

Tydens vroeëre getuienis het Simpson vir Fourie uitgevra oor die gebruik van aanstootlike terme soos “Porra-scum” en “verkragter” met verwysing na een van die Jardims, ook in graffiti. Hy wou weet of dié optrede verband hou met twyfel oor wie een van die Fouries se kinders se biologiese pa is.

Fourie het voorheen aan die hof gesê hy het een van die klaers vir die eerste keer in 2013 ontmoet toe hy ’n vark by hom gekoop het. Hy het beweer dit was die eerste en enigste kontak tussen hulle.

Van die graffiti wat ter sprake is in die saak. Foto verskaf

Manny Jardim het egter getuig hy het Anna wel geken, wat die egpaar se verklarings weerspreek.

In 2021 het die staat ’n DNS-toets versoek om die vaderskapskwessie op te klaar, wat Fourie aanvanklik geweier het. Hy het op 15 Augustus aan die hof gesê hy is bereid om die toets te ondergaan, maar het sedertdien sy samewerking onttrek.

Hy het ook geweier om ’n foto van die kind hof toe te bring nadat hy deur sy regsverteenwoordiger aangeraai is om dit nie te doen nie.

Simpson het verskeie voorvalle met die Jardims uitgelig, waaronder ’n beweerde telefoonoproep waarin Fourie valslik beweer het dat hy na Manny soek weens ’n kamma-lasbrief van ene “kapt. van Staden” van die polisie op Ladybrand. Die staat het dit ’n doelbewuste daad van intimidasie genoem.

’n Boodskap op ’n selfoon wat deel vorm van die ondersoek. Foto verskaf

Ander bewerings sluit in geskille oor varkverkope, die beweerde diefstal van ’n bul, ’n aangemelde motorjaagtog in Welkom en bewerings dat Fourie onwelvoeglike gebare teenoor die Jardims se suster, Irene Freitas, gemaak het.

Die staat het ook nege dreigende boodskappe aangebied wat na bewering deur Fourie aan drie Jardim-familielede gestuur is. Sommige is na bewering ook aan Anna gestuur om die indruk te wek sy word ook geteister.

Volgens Simpson is honderde bykomende boodskappe gestuur vanaf ’n nommer wat gekoppel is aan die egpaar se huisfoon, waartoe Fourie bevestig het slegs hy en Anna toegang gehad het.

Welkom: Voormalige polisiebeampte ontken bewerings in verklaring  | News Article

Daniel en Anna Fourie tydens ’n vorige hofverskyning. Foto: Charne van der Merwe

Die verhoor is met die jare meermale vertraag, onder meer deur ’n doktersbrief, wat namens Anna ingedien is en waarin beweer is sy het brongitis gehad, en Fourie se versoek om ’n tolk, ten spyte daarvan dat hy voorheen vrae in Engels beantwoord het.

Fourie, wat voorheen die rang kaptein beklee het, is glo uit die polisie ontslaan ná beweerde misdadige optrede.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.