Central SA
Jong Noord-Kaapse duiweliefhebber vlieg hoog met nasionale kleure─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:01 Wed, 29 Jul 2026
Op net agt maak ’n jong seun van Upington reeds naam in die wêreld van sierduiwe nadat hy nasionale kleure verwerf en ’n junior kampioenskap gewen het.
Leendert Snyman, ’n gr. 3-leerder aan Laerskool Oranje-Noord, het onlangs sy nasionale erekleure op die Suid-Afrikaanse Sierduifvereniging (SASV) se nasionale kampioenskap in Bloemfontein ontvang. Sy American Giant Homer is ook as junior kampioenduif aangewys.
Sy liefde vir duiwe het begin nadat sy pa, ook Leendert, in 2020 met duiwe begin boer en aan skoue deelneem het. Op vierjarige ouderdom het hy sy eerste duiwe, Birmingham Rollers, van ’n vriend gekry. Sedertdien het sy belangstelling gegroei en het hy in 2023 self aan skoue begin deelneem.
Vandag besit hy tussen 50 en 60 duiwe van vier rasse – American Giant Homers, Modenesers Birmingham Rollers en Holle Croppers. “Ek hou die meeste van my American Giant Homers, want hulle is groot en het ’n rustige geaardheid. My Birmingham Rollers mag buite vlieg en maak toertjies in die lug,” vertel hy.

Leendert se liefde vir duiwe is te danke aan sy pa. Foto verskaf
Vir Leendert is ’n duiweskou baie soos ’n skoonheidskompetisie. “Ons maak die duiwe mooi, knip hulle naels, maak hulle bekke en vere reg en sorg dat hulle gesond is. Dan beoordeel die beoordelaars hulle volgens die rasstandaarde.”
Hy bring sowat vyf uur per week met sy duiwe deur omdat hy en sy ma, Miemie, tydens die week in Upington woon sodat hy skool kan bywoon, terwyl die gesin se plaas sowat 60 km buite die dorp is. Naweke bring hy by sy duiwe op die plaas deur.
Sy pa sê Leendert se liefde vir die diere is duidelik sigbaar. “Hy vang sommer ’n duif, dra hom rond, vertroetel hom en sit hom weer terug. Hy is altyd opgewonde wanneer daar ’n eier gelê is of ’n kuiken uitgebroei het.”

Leendert geniet dit om mense te ontmoet by die skoue. Foto verskaf
Vir Leendert gaan die sport oor veel meer as net kompetisie. “Ek geniet dit baie om my medejunior-vriende by die skoue te sien en my mooi duiwe vir ander mense te wys. Dit is ook lekker om nuwe mense te ontmoet en nuwe plekke te besoek.”
Hoewel hy reeds groot sukses behaal het, sê hy daar is ook uitdagings. “Ek is soms allergies vir die vere en dit is ver om na die skoue te ry, maar ek bly lief vir my duiwe.”

Sy ouers, Leendert en Miemie, is baie trots op hul seun. Foto verskaf
Volgens sy pa was die oomblik toe Leendert sy erekleure ontvang het, onvergeetlik. “Hy kon net nie glo hy het ’n groen baadjie ontvang nie. Sy hart was behoorlik in sy keel.
“Dit was ook vir ons almal ’n baie emosionele oomblik. Ons hart bars van trots. Hy is ons enigste kind en sy prestasies beteken ongelooflik baie vir ons.”

Leendert sien uit na volgende jaar se skou. Foto verskaf
Leendert hoop om nog baie jong mense by die sport betrokke te kry. “Ek sal hulle help. Ek gee graag duiwe vir jong mense wat wil begin. Dit is nie belangrik om die beste te wees nie, maar om lief te wees vir jou duiwe en hulle mooi te versorg. Party skoue wen jy en party skoue nie, dan moet jy maar net weer probeer.”
Hoewel die skouseisoen vir vanjaar verby is, sien Leendert reeds uit na volgende jaar se Noord-Kaapse streekskou, waar hy sy passie vir sierduiwe weer kan uitleef.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

