Central SA
Sakeman van Kimberley dan gegroet─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:05 Fri, 13 Feb 2026
’n Sakeman van Kimberley wat sy tyd, hulpbronne en vaardighede toegewy het aan die verbetering van die stad, se lewe word dié naweek gevier.
DF Marais (57) het Maandag (9/2) omstreeks 06:30 omgekom in ’n motorongeluk naby Daniëlskuil. Volgens ’n familielid het hy nie beheer oor sy voertuig verloor soos voorheen berig nie.
'n Familielid sê die voorval was ’n fratsongeluk, maar vra dat geen nadere besonderhede oor sy dood of die omstandighede daaromheen openbaargemaak word nie, weens die skok en trauma wat hulle steeds ervaar.
“Dit is ’n uiters sensitiewe tyd vir ons familie en die omstandighede van die ongeluk is vir ons baie ontstellend. Ons vra dat ons privaatheid gerespekteer word terwyl ons hierdie verlies verwerk.”

DF Marais, sy vrou, Annemarie, en hul seuns, Lucas en Daniël . Foto verskaf
Daniëlskuil se polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag ná die ongeluk op die R31, sê ao. Molefi Shemane, provinsiale polisiewoordvoerder.
Marais was die stigter van die organisasie sonder winsoogmerk Kimberley4Kimberley. Hulle is betrokke by talle verbeteringsprojekte in die Diamantstad, soos die herstel en opvul van paaie en slaggate, hulp om die stad skoon te hou en die verf van geel strepe en spoedhobbelmerke.
Kollegas en mense wat saam met Marais by die organisasie gewerk het, het hom beskryf as meer as net ’n kollega of vriend, hy was ’n helpende hand vir baie. “As daar iets was wat uitgesorteer moes word, was DF daar. Niks was ooit te veel moeite vir hom nie,” lui 'n verklaring van Kimberley4Kimberley.

DF en Annemarie Marais. Foto verskaf
“Hy het onwrikbaar geglo in die verbetering van sy dorp, sy stad en sy nalatenskap. Die paaie waarop baie inwoners van Kimberley nou ry, het hy help regmaak. Hy het sy eie tyd, vakmanskap en werknemers belê om die stad ’n beter plek te maak.
“Sy drome was groot, sy planne verreikende, en sy dryfkrag vir verbetering en positiwiteit het geen perke geken nie. Hy was toegewy daaraan om ander te help en ’n betekenisvolle verskil te maak."
Cassie Carstens, ’n goeie vriend, sê hy sal onthou word vir sy opregte vriendskap, toewyding en die positiewe impak wat hy op die lewe van diegene rondom hom gehad het.

“Sy teenwoordigheid en bydrae het ’n blywende indruk gelaat, en sy verlies laat ’n groot leemte.”
Marais word oorleef deur sy vrou, Annemarie, en hul twee seuns Daniël en Lucas. Daniël is ’n lid van die sanggroep die Piesangskille.
Marais se lewensviering word vir Saterdag (14/2) om 10:00 in The Word Church beplan.
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuuslyn: 066 487 1427.

