Central SA
Beloning verdubbel vir inligting oor Noordwes-moordverdagte─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:47 Tue, 24 Feb 2026
’n Beloning vir inligting oor ’n Noordwes-moordverdagte is tot R100 000 verhoog.
Potchefstroom se polisie is op soek na Pedro Francisco Cossa (42), wat na bewering betrokke was by die moord op Stephen Moagi (42). Die slagoffer is langer as tien jaar gelede noodlottig geskiet.
Moagi was in die die vroeë oggendure van 19 April 2017 vanaf die werk op pad huis toe. Hy is tussen Sun City en Thekwane, buite Rustenburg, deur ’n bestuurder in ’n onbekende voertuig genader waarna ’n verdagte hom glo geskiet het, sê Kol. Adele Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder.

Pedro Francisco Cossa word gesoek vir moord. Foto verskaf
Cossa is sedert die voorval op die vlug. In 2024 is ’n beloning van R50 000 aangebied vir inligting wat tot sy inhegtenisneming kan lei.
Hy word beskryf as ’n lang man met bruin oë, swart hare en slank gebou. Hy is oorspronklik van Mosambiek, en hy praat Setswana en Portugees.
Enigiemand met inligting kan die ondersoekbeampte, kapt. Winnie Rekate, kontak by 082 416 0838 of Stop Misdaad by 08600 10111 of gebruik die MySAPS-app om wenke anoniem deur te gee.
Jaar gelede verdwyn
Die polisie in Namakwaland bied ’n beloning van R75 000 aan vir enige inligting wat kan lei tot die opsporing van David Waterboer (14) van Nababeep.
David (destyds 14) het langer as ’n jaar gelede op Concordia spoorloos verdwyn.
Die beloning is ook in Mei verlede jaar uitgeloof, maar het tot dusver geen resultate opgelewer nie. David het op 7 Februarie verlede jaar verdwyn nadat hy vroeër daardie dag ’n atletiekbyeenkoms bygewoon het.

David Waterboer is al byna ’n jaar lank vermis. Foto verskaf
Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting om na vore te kom. Alle inligting sal streng vertroulik hanteer word.
Enige inligting kan aan kapt. Whynoma Love gegee word by 082 874 4532 of 027 712 8104.
Bel Stop Misdaad by 08600 10111 om enige verdagte aktiwiteit aan te meld of maak gebruik van die MySAPS-app. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

