On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Ouma van Jan Kempdorp gaan 832 km stap vir siek kleindogter

───   SUSAN MARÉ 12:56 Fri, 27 Feb 2026

Ouma van Jan Kempdorp gaan 832 km stap vir siek kleindogter | News Article
Vicky Verster en Lyra, haar kleindogter. Foto verskaf

’n Fikse ouma van die Noord-Kaap wil in Mei Durban toe stap om te help met haar kleindogter se mediese onkoste.

Vicky Verster sê tirosinemie tipe I-siekte is by haar kleindogter Lyra Verster (3) gediagnoseer en sy wag op ’n leweroorplanting by die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad. Met Verster se bewusmakingsveldtog oor dié siekte wil sy ook geld insamel vir Lyra se peperduur mediese uitgawes. 

“Ek gaan die 832 km loop omdat Lyra vir ons so kosbaar is,” sê Verster.

Lyra Verster in die hospitaal. Foto verskaf

Tirosinemie is ’n seldsame, oorerflik-genetiese afwyking waar die liggaam nie die aminosuur tirosien doeltreffend kan afbreek nie, wat tot giftige opbou in weefsels en organe lei. Die toestand word veroorsaak deur ’n ensiemetekort, wat sonder behandeling ernstige lewer- en niersiekte, verstandelike gestremdheid en groeiprobleme kan veroorsaak.

Daar is drie hooftipes, waarvan die eerste die ernstigste vorm is wat dikwels lewer- en nierversaking veroorsaak. Die behandeling van tirosinemie tipe I is lewenslank vir die lyer en is toegespits op die voorkoming van die opbou van giftige stowwe in die liggaam. 

Dit word deur ’n kombinasie van medikasie en ’n streng dieet bestuur.

Lyra Verster. Foto verskaf

’n Leweroorplanting word gewoonlik slegs as ’n laaste uitweg beskou. Moderne medikasie en ’n streng dieet is in 90% van die gevalle doeltreffend. 

Lyra en haar ouers vertrek binnekort per bus na die Rooi Kruis-kinderhospitaal in die Kaap waar hulle al drie intensiewe toetse sal ondergaan.

Lyra is haar “klein gogga”, vertel haar ouma. “Sy is ’n lewendige meisietjie van drie jaar en drie maande maar die siekte het haar en ons lewens ingrypend verander.”

Lyra Verster sal moontlik ’n leweroorplanting moet kry. Foto verskaf

Hoewel haar siektetoestand met ’n dieet en medikasie bestuur word, is die langtermyndoelwit ’n leweroorplanting. Dit kan aan haar ’n tweede kans op lewe bied hoewel dit gaan bars om genoeg geld in te samel.

Daar is ook ’n kritieke tekort aan orgaanskenkers in Suid-Afrika. Van die medikasie is ook nie plaaslik verkrygbaar nie. 

Vicky hoop om met haar 29 dag lange staptog deur drie provinsies, die Noord-Kaap, Vrystaat en Kwazulu-Natal, met mense in gemeenskappe en dorpe oor die siekte en sy uitdagings te gesels. 

Elke tree werd

Dis nie ’n geborgde of korporatiewe geleentheid nie, sê Verster. 

“Ek gaan die honderde kilometers stap, want ek wil hê die wêreld moet weet Lyra se lewe is elke tree werd. Ek stap om geld in te samel vir mediese uitgawes en sodat sy ’n leweroorplanting kan kry vir ’n suksesvolle herstelproses waarvoor ons bid en hoop.”

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Susan Maré

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.