Central SA
Noord-Kaapse vrou in hof vir bedrog─── CHARNÉ VAN DER MERWE 16:45 Fri, 27 Feb 2026
Sy sal weer op 11 Maart in die hof verskyn vir beweerde sakebedrog.
Amy Mellisa van Heerden (30) het Vrydag (28/2) in die Kathu-landdroshof verskyn. Sy staan tereg op aanklagte van bedrog, geldwassery en diefstal.
Van Heerden is Donderdag (26/2) deur die Valke se eenheid vir ernstige handelsmisdaad in hegtenis geneem. Sy het glo as werknemer van Nashua Kathu opgetree en sonder magtiging haar werkgewer se bankbesonderhede na haar persoonlike bankrekening verander, sê lt.kol. Tebogo Thebe, Valkewoordvoerder.
Borgtog
“Nashua het ’n verlies van meer as R1 miljoen gely want geld wat aan die maatskappy verskuldig was, is aan haar betaal.” Sy is op borgtog van R10 000 vrygelaat.
Intussen sal nog twee mense van die Noord-Kaap op 17 Maart in die hof verskyn nadat hulle glo verantwoordelik was vir ’n munisipaliteit se verlies van meer as R1miljoen.
Annelie (52) en Jonathan Swartz (59) het Woensdag (18/2) in die Kakamas-landdroshof verskyn. Hulle word aangekla van diefstal en geldwassery.
Water en elektrisiteit
Die mede-eienaars van Annie’s Building Supplies is op dieselfde dag as wat hulle in die hof verskyn het deur die Valke in hegtenis geneem, sê ao. Nomthandazo Mnisi, Valkewoordvoerder.
“Na bewering het die beskuldigdes in 2020 ’n ooreenkoms met die Kai!Garib-munisipaliteit aangegaan om water en elektrisiteit namens die munisipaliteit te verkoop,” sê Mnisi.
“Die ooreenkoms het vereis alle geld wat uit hierdie verkope ingevorder word moet na die munisipaliteit se bankrekening oorbetaal word.”
R1,2 miljoen
Die beskuldigdes het glo dié ooreenkoms slegs twee maande lank nagekom voordat hulle na bewering opgehou het om die ingevorderde geld oor te betaal. Die munisipaliteit het ’n verlies van R1,2 miljoen gely.
Borgtog van R5 000 elk is aan die beskuldigdes toegestaan. Die saak is tot 17 Maart uitgestel. .
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

