On Now
Weekends 13:00 - 16:00
Saterdag Siësta Olebogeng
Show Background
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Saints hou gedenkdiens vir oud-adjunkhoof

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:14 Sat, 07 Mar 2026

Saints hou gedenkdiens vir oud-adjunkhoof | News Article
Pierre Grobler was ’n gerekende Saints-onderwyser en Vrystaat-krieketspeler. Foto: Facebook

'n Gedenkdiens word Vrydag (13/3) by ’n Bloemfonteinse skool gehou vir ’n voormalige adjunkhoof wat vandeesweek oorlede is.

Pierre Grobler (72), ook voormalige krieketafrigter van St Andrew’s School (Saints), is Donderdag (5/3) net voor 07:00 oorlede. Hy het ’n beroerte gehad.

Grobler was nie net ’n gerespekteerde onderwyser nie, maar ook ’n voormalige Vrystaatse krieketspeler. Hy en sy broers Etienne en Anton het almal die provinsie in dié sport verteenwoordig.

Hy het tussen 1979 en 1986 sewe eersteklaswedstryde en drie eendagwedstryde vir die provinsie gespeel en gedurende daardie tydperk naam gemaak in die sport.


Gedurende sy lang verbintenis met Saints is Grobler erken vir sy toewyding aan die skoolgemeenskap. In 2006 het hy lewenslange erelidmaatskap van die skool se alumnivereniging ontvang, asook ’n Fiat Lux-toekenning – die hoogste eerbewys wat die skool aan ’n individu kan toeken – vir sy betrokkenheid en bydrae.

“Vir meer as 40 jaar (1979–2018) was hy by Saints ’n mentor vir generasies seuns, ’n gerespekteerde onderwyser en adjunkhoof, ’n groot gholfspeler, en een van die beste manne wat Saints die voorreg gehad het om te ken,” sê Roland Rudd, skoolhoof.

Die Vrystaat Krieketunie sê Grobler het die Vrystaat met trots verteenwoordig nadat hy sy debuut gedurende die 1977/78-seisoen gemaak het. “Sy bydrae tot krieket in ons provinsie vorm deel van die ryk geskiedenis en erfenis van die spel in die Vrystaat.


“Diegene wat die voorreg gehad het om die veld en kleedkamer met hom te deel, sal sy passie vir die sport en die trots onthou waarmee hy die Vrystaat-kleure gedra het.”

Die unie het sy meegevoel betuig met Grobler se familie, vriende, voormalige spanmaats en die breër krieketgemeenskap.

’n Gedenkdiens word Vrydag om 14:00 in die St Andrew’s-kapel gehou.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.