Central SA
Noordwes-pa wat glo seuns vermoor ná rusie met ma, bly agter tralies─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:22 Thu, 12 Mar 2026
’n Man van Noordwes wat na bewering sy twee kinders vermoor het ná ’n rusie met hul ma, bly in aanhouding tot hy na verwagting Dinsdag (17/3) om borgtog sal aansoek doen.
Afentseng Motlhanke (35) het Dinsdag in die Groot Marico-landdroshof op twee aanklagte van moord voorgekom. Hy en die kinders se ma het na bewering stry gekry toe hy glo gedreig het om die kinders dood te maak.
“Terwyl die ma Saterdag (7/3) by ’n kerkbyeenkoms was, het hy sy twee jong seuns (1 en 3) by hul ouma gaan haal,” sê sers. Kelebogile Morake, Noordwes-polisiewoordvoerder.
Die liggame van die seuns is Saterdagmiddag in bosse naby ’n rivier op ’n plaas in omgewing gevind, sê Morake. Die kinders het veelvuldige beserings gehad. Nooddienste is ontbied, maar albei broers is dood verklaar.
'Hy beskryf die voorval as ’n “diep ontstellende” geval van gesinsgeweld'
Die pa is Sondag in hegtenis geneem nadat inwoners hom help opspoor het.
Genl.maj. Ryno Naidoo, waarnemende provinsiale kommissaris, verwelkom die inhegtenisneming en loof die samewerking tussen die polisie en die gemeenskap.
Hy beskryf die voorval as ’n “diep ontstellende” geval van gesinsgeweld. Hy vra enigiemand wat in ’n gewelddadige verhouding vasgevang is, of mense wat bewus is van sulke situasies, om hul stem te laat hoor en hulp te soek by die polisie, howe, maatskaplike werkers, hul kerk of gemeenskapsleiers.
Nog 'n pa verdrink kind
Intussen het ’n Vrystater na bewering ’n baba (1) in ’n rivier verdrink ná ’n uitval met die kind se ma.
Tydens die 30-jarige se woordewisseling Maandag 23 Februarie in Botshabelo, oos van Bloemfontein, met die kind se ma het hy na bewering die baba gegryp en na die nabygeleë Modderrivier gehardloop. Hy het met die kind onder die water verdwyn, het sers. Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder, vroeër gesê.
Ten spyte van ’n drie dag lange soek-en-reddingsoperasie is geen liggame gevind nie. Die Donderdag omstreeks 18:00 het inwoners die polisie laat weet ’n volwassene se liggaam dryf in die rivier. Hy is uitgeken as die baba se pa.
Liggaam in rivier
Polisieduikers het aanhou soek na die eenjarige se liggaam en hom eindelik die afgelope Donderdag (5/3) uit die rivier gehaal.
Die polisie sit die formele proses voort om die pa van moord aan te kla, sê Kareli. “Dis standaardpraktyk sodat die ondersoek amptelik afgehandel kan word en dat geregtigheid geskied (op rekord) vir die … slagoffer.”
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

