On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaapse leerder sterf op pad skool toe weens oorvol minibus

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:15 Fri, 13 Mar 2026

Noord-Kaapse leerder sterf op pad skool toe weens oorvol minibus | News Article
Foto ter illustrasie, iStock

Die Noord-Kaapse departement van onderwys sal nou saam met die polisie werk om strenger padveiligheidsregulasies af te dwing nadat ’n leerder sy lewe verloor het in ’n ongeluk weens ’n oorvol minibus.

Nog ses ander leerders is in die ongeluk beseer, van wie vier ernstige beserings opgedoen en twee na Douglas geneem is vir mediese skanderings. Die ongeluk het Vrydag (13/3) tussen Orania en Hopetown plaasgevind toe die minibus met ’n vragmotor gebots het.

Volgens die Suid-Afrikaanse departement van vervoer en die nasionale padverkeersregulasies mag ’n minibus nie meer as 16 passasiers vervoer nie.

Die bestuurder het egter 28 leerders leerlinge na die Laerskool Steynville, die Laerskool Oranje Diamant en die Hoërskool Steynville vervoer, sê Geoffrey van der Merwe, kommunikasiewoordvoerder.

Foto ter illustrasie, iStock

Hy is op die toneel in hegtenis geneem. ’n Saak van strafbare manslag word ondersoek, sê kol. Cherelle Ehlers, provinsiale polisiewoordvoerder.

Volgens van der Merwe word onmiddellike psigososiale ondersteuning aan die betrokke families, leerders en skole deur die departement se werknemerondersteuningsdienste verskaf.

“Ons distrikskantoor sal ook voortgaan om deurlopende ondersteuning aan die skole en die betrokke gesinne te bied.”

In Januarie het ’n ongeluk die lewens van 14 leerders naby Vanderbijlpark geëis ná nog ’n minibusongeluk.

Ayanda Dludla (22), wat weer op 22 April in die hof moet verskyn, staan tereg op 14 aanklagte van moord, drie aanklagte van poging tot moord, en bykomende aanklagte, insluitend roekelose en nalatige bestuur.

Die minibus het leerders op 19 Januarie na hul onderskeie skole vervoer toe die bestuurder na bewering verskeie voertuie op die R553 verbygesteek en probeer het om terug te swaai voor ’n vragmotor wat in die teenoorgestelde rigting gery het.

Twaalf leerlinge is op die toneel dood, terwyl twee ander later in die hospitaal aan hul beserings beswyk het.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus dg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.