On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Sesjarige van Noordwes ná twee jaar steeds kankervry

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:21 Tue, 17 Mar 2026

Sesjarige van Noordwes ná twee jaar steeds kankervry | News Article
Liam is steeds kankervry. Foto verskaf

Dit was asof die sesjarige van Noordwes reeds geweet het sy skandering sou wys hy is kankervry toe hy opgewonde wakker word en sê: “Vandag is my skandering.”

Liam Jacobs (6) van Ottosdal het Maandag (16/3) sy tweede opvolgafspraak gehad om te kyk of die kanker teruggekeer het waarteen hy langer as ’n jaar geveg het. Die skandering het bevestig hy is steeds kankervry.

Ná sy eerste skandering op 10 November het hy reeds vir sy ma, Suné, gesê: “Mamma, Liewe Jesus het gesê Hy gaan my gesond maak.”

Liam is op 18 Julie 2024 met kanker gediagnoseer nadat ’n CT-skandering gedui het op gewasse in sy brein en rugmurg. In die maande daarna het hy verskeie operasies, agt plaatjieoortappings, tien bloedoortappings en chemoterapie verduur. In dié uitdagende tydperk het hy slegs 12 kg geweeg.

Liam Jacobs in die intensiewesorgeenheid. Foto: Suné Jacobs

Op 26 Julie het Liam ’n uitmergelende vier-en-’n-half uur lange operasie ondergaan waartydens twee van die ses gewasse in sy brein verwyder is. Dit was die primêre gewas en nog ’n grote in sy serebellum aan die basis van sy skedel.

Die dokters het verwag Liam sou sy sig verloor het, sê Suné, en hy sou eers ná sowat ses maande weer kon geloop het. “Merkwaardig genoeg kon hy net vier dae ná die operasie weer sien. Twee maande later het hy geloop.”

Op 14 Augustus het hy ’n ernstige terugslag beleef met intense stuiptrekking nadat hy aanvanklik geen reaksie getoon het nie. Dit was egter die keerpunt. Die volgende dag is hy van die ventilator afgehaal.

Liam Jacobs in 2024. Foto: Suné Jacobs

Tydens sy herstel moes Liam deur ’n neusbuis gevoed word omdat eet hom naar gemaak het. Andersins het hy min newe-effekte ervaar. Eindelik het Liam op 11 Augustus die klok in die Netcare Unitas-hospitaal gelui wat aankondig ’n pasiënt is kankervry.

Dit was nadat vasgestel is dat hy so te sê skoon is. Ma Suné en pa WD beskryf dit as “niks minder as ’n wonderwerk” nie.

Die Jacobs-gesin moes reeds om 07:00 by Netcare Unitas-hospitaal wees waar Liam sy drup en sedasie ontvang het. Die skandering het ongeveer ’n uur en ’n half geduur.

Die Jacobs-gesin. Foto verskaf

Suné en WD het by die onkoloë gewag dat Liam wakker word en vir die skanderingsuitslae – iets wat nooit makliker word nie wanneer elke oomblik na ’n ewigheid voel. Ná langer as ’n uur het hulle die verslag ontvang: “Geen teken van gewasse nie.” Liam se neurochirurg was ook baie tevrede met sy vordering.

“Dis ’n groot verligting! Om te weet dat daar geen teken van kanker in jou kind se liggaam is nie, is absoluut wonderlik! Dit gee jou weer nuwe moed vir die lewe!”

Die ouerpaar het voorheen aan Liam verduidelik hy het “balle in sy kop” wat nie daar moet wees nie. Hoewel hy steeds nie die konsep van kanker verstaan nie, weet hy hy was baie siek gewees.

Liam geniet visvang. Foto verskaf

“Hy verstaan die doel van elke skandering en wat dit behels. Hy weet daar word ‘foto’s’ van sy brein en rugmurg geneem. Die roetine is elke keer min of meer dieselfde. Hy weet ten minste dit maak nie seer nie,” sê WD.

Die dae voor die skanderings bring gemengde emosies vir sy ouers. “Tussen skool en veilings is ek en my man gewoonlik baie besig. Soms, wanneer dit snags stil is en die kinders slaap, haal dit alles in, en ek en WD begin praat oor hoe ons voel,” sê Suné.

Liam moet elke vier maande vir 'n skandering gaan. Foto verskaf

Sy erken dit is uiters stresvol. Die situasie kan in ’n oogwink verander. “Ons is lief vir ons geloof en staan vas op God se woord. Voor Liam bly ons sterk. Ons sal hom nie laat sien dat ons bekommerd is nie.”

Suné sê Liam is steeds op chemoterapiemedikasie om seker te maak die kanker bly weg. Hy moet daagliks pille drink vir nog ongeveer drie jaar. Skanderings word elke vier maande gedoen om te verseker hy bly kankervry, aangesien sy kanker uiters aggressief was.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.