On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

‘Viljoens gaan tronk toe’ – Bolhuis

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:49 Tue, 17 Mar 2026

‘Viljoens gaan tronk toe’ – Bolhuis | News Article
Peet en Melany (Mel) Viljoen. Foto CBS12.com

Die omstrede Suid-Afrikaanse glanspaar wat ’n week gelede in die VSA vir diefstal in hegtenis geneem is, is ook onwettig in die land.

Peet en Melany (Mel) Viljoen, wat bekendheid verwerf het deur hul deelname aan die werklikheids-TV-reeks The Real Housewives of Pretoria, is Dinsdag (3/5) in Florida in hegtenis geneem. Hulle staan tereg op aanklagte van winkeldiefstal.

Dit wys net, ’n mens kan nie aan jou verlede ontsnap nie, sê die privaat speurder Mike Bolhuis. Die paartjie is al lank onder sy radar weens ’n jare lange bedrogsaak en ander beweerde misdade waarby hulle na bewering in SA betrokke was.

Dit het ook aan die lig gekom hulle is al drie maande onwettig in die VSA. Hulle is intussen oorgplaas na aanhouding van ICE, die VSA se waghondagentskap oor immigrasie.

Bolhuis beweer al die dokumentasie wat die Viljoens gebruik het om oor te gaan, is vervals.

Mike Bolhuis. Foto verskaf

Mel word aangehou in die Broward-oorgangsentrum, en Peet word aangehou in die Florida Soft Side South-fasiliteit, oftewel die sogenaamde Alligator Alcatraz.

Amnestie Internasionaal het onlangs ’n navorsingsverslag oor Alligator Alcatraz uitgereik waarin beweer word mense wat daar aangehou word, leef in onmenslike en onhigiëniese toestande, insluitend verstopte toilette, beperkte toegang tot storte, blootstelling aan insekte sonder beskermende maatreëls en ligte wat 24 uur per dag aanbly.

Die Amerikaanse ondersoek verskil van die Suid-Afrikaanse ondersoek, vertel Bolhuis. “Hulle doen ’n behoorlike algehele en ’n digitale informasieopsporing wanneer hulle iemand aankeer. As hulle weet jy is ’n Suid-Afrikaner, is die eerste ding wat hulle ondersoek jou geskiedenis hier in Suid-Afrika: Wat jy alles hier aangevang het en ook hoekom jy die land verlaat het.”

Bolhuis sê die ondersoekers is ook in besit van al die dokumentasie wat verband hou met die Tammy Taylor-sage, en al die video’s op Peet se sosiale media, waarin hy rassistiese uitlatings maak, is ook vir hulle beskikbaar. Hierdie inligting sal ook gebruik word om die strawwe te bepaal wat die twee opgelê word. “Glo my, hulle gaan tronk toe,” sê Bolhuis.

Tammy Taylor-sage

Die M-Net-program Carte Blanche het berig die twee het nie meer 'n lisensie om onder die naam Tammy Taylor (’n Amerikaanse sakevrou) handel te dryf nie, maar hulle het na bewering voortgegaan om dit te doen ongeag.

Tammy Taylor, hoof van Tammy Taylor Nails, het op 2 April 2024 ’n eis vir $100 miljoen in skadevergoeding ingedien, met verwysing na die skade wat aan haar naam en handelsmerk aangerig is.

“Van 2017 tot 2022 het ek die Viljoens beperkte regte toegestaan om Tammy Taylor-naelprodukte in Australië en Afrika te verkoop. Daardie ooreenkoms is in 2022 beëindig.

“Van 2018 tot 2021 het ek hulle ook beperkte regte toegestaan om Tammy Taylor-salonne in Afrika oop te maak. Daardie ooreenkoms is in 2021 beëindig,” sê sy in ’n video.

Tammy Taylor, hoof van Tammy Taylor Nails. Skermgreep uit video

“Die Viljoens gebruik egter steeds my naam, my kopiereg en my handelsmerke op sosiale media en in advertensies om valslik te beweer dat hulle steeds met my en Tammy Taylor Nails geaffilieer is. Hulle is nie. Ek maak hierdie stelling om te verhoed dat Melany en Peet Viljoen my en ander aanhou skade berokken.”

Die Viljoens word daarvan beskuldig dat hulle oor ’n tydperk van ses maande byna $5 300 (Sowat R88 000) se artikels uit ’n plaaslike supermark gesteel het. Dit sluit in duur vonkelwyn, suikervrye gaskoeldranke, gegeurde vonkelwater, toiletpapier, varsprodukte en ander kruideniersware. Vir slegs ’n paar artikels is blykbaar betaal.

Die winkel se stelsel wys altesaam 392 artikels is nie geskandeer nie. Hulle het na bewering staafkodes geskandeer vir goedkoper produkte in plaas van die duurder produkte wat hulle eintlik geneem het. Hierdie taktiek is na bewering 52 keer gebruik, berig CBS12.com.

Peet en Mel. Foto: Mel Viljoen Instagram

Volgens die inhegtenisnemingverslag het Mel na bewering die diefstalle erken en aan beamptes gesê sy het ter wille van oorlewing gesteel. Sy kon nie daar werk kry nie omdat sy nie ’n visum het nie. Sy en haar man moet weer op 9 en 30 April in die hof verskyn.

Agtergrond

Die Viljoens het Suid-Afrika in Julie 2025 verlaat, maande nadat die hooggeregshof in Pretoria hulle beveel het om op te hou om Tammy Taylor-franchises te verkoop midde-in ondersoeke ná die beweerde diefstal van R70 miljoen se voorraad.

Volgens Bolhuis het die NVG bevestig ses strafregtelike sake word teen hulle ondersoek. “Peet en Mel het die land verlaat om vervolging te ontduik, terwyl hulle hulself in die openbaar as slagoffers voorgedoen het.”

Hulle beplan om met die owerheid in die VSA saam te werk, sê Bolhuis. Sodra die regsproses voltooi is, sal die paartjie hopelik aan Suid-Afrika uitgelewer word sodat hulle hier op ander beweerde oortredings tereg kan staan.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.