On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Jong kunstenaars skud al hul vere reg vir die Bethlehem-eisteddfod

───   SUSAN MARÉ 15:04 Wed, 18 Mar 2026

Jong kunstenaars skud al hul vere reg vir die Bethlehem-eisteddfod | News Article
Kjirsten Forrester, ’n violis van Bethlehem. Foto: Susan Maré

Vir kore, instrumentaliste, dansers, fotograwe, skilders, toneelspelers en hul afrigters is dié viering van talente jaarliks ’n hoogtepunt.

Wat die eisteddfod van 17 tot 21 Augustus besonders maak, is dat dit al om die ander jaar as die Harrismith-eisteddfod aangebied word. Dis bes moontlik die enigste kunswedstryd van sy soort wat nog op die Vrystaatse platteland gehou word. 

Musiek, die kunste en kultuur het nog altyd in die Oos-Vrystaat gedy. Die eisteddfods is al dekades lank vir albei dorpe ’n buitengewone kultuurinspuiting en inspirasie.

Die voorsitter van Bethlehem se eisteddfod, Bernette Erasmus, van die Primêre Skool Truida Kestell, sê inskrywings het al begin inkom. Hulle verwag vanjaar meer as 5 000.


Danksy tegnologie kan deelnemers aanlyn inskryf, selfs van afgeleë plekke soos Vanzylsrus in die Noord-Kaap of Venterskroon aan die anderkant van die Vrystaat. Kunswerke soos skilderkuns en fotografie moet egter ingedien word of na Bethlehem versend word vir beoordeling en uitstallings.

“Dit was nog nooit so maklik om ’n eisteddfod te reël nie danksy ditigale en ander hulp,” sê Erasmus. “Bethlehem se mense is saam met ons entoesiasties. Sale en lokale is aangebied terwyl borge en donateurs die eisteddfod graag ondersteun.

Koorlede wat onder leiding van Christa Groenewald van Hoërskool Witteberg oefen. Foto verskaf

“Ons het selfs ’n gastehuiseienaar wat die beoordelaars gratis huisves. As komitee is ons opgewonde en staan ons verstom.”

Kultuurkompetisies is vandag lewensnoodsaaklik, meen sy. Platforms waar kinders in verskeie afdelings kan meeding, bevorder nie net kultuurbewusmaking nie, maar is besonderse ervarings vir die deelnemers om hulself in die kunste en kultuur uit te leef.

“ ’n Week lank kan volwassenes ook die interessante beoordelingsessies teen ’n geringe toegangsfooi bywoon,” voeg Erasmus by. “Ons nooi skole en afrigters uit om na die prospektus op ons webtuiste kyk en in te skryf.”

Bernette Erasmus, voorsitter van die Bethlehem-eisteddfod. Foto: Susan Maré

Intussen sê Bambie de Wet, voorsitter van die Harrismith-eisteddfod, deelname is jaarliks ’n geleentheid vir leerders om hul vaardighede te vertoon, hulself tot hoër hoogtes uit te daag en so hul kunsgawes te ontwikkel. Dit is ’n nasiebouaktiwiteit waar individue, ongeag ras of klas, saam kan deelneem en ’n gevoel van eenheid ervaar.

“Danksy al die eisteddfods leer deelnemers om hulself in enige omstandigheid te handhaaf, aan te bied en onder druk op hul voete te dink. Deelname aan eisteddfods is ideaal om ’n kind se selfvertroue te bou en toe te rus om nie terug te deins vir die lewe se uitdagings nie.

Jong manne wat al hulle sê kan sê op die verhoog. Foto verskaf

“Aan die Bethlehem-eisteddfod, Bernette en haar span, alle sterkte met vanjaar se fees van kunste. As buurdorp staan ons bankvas agter julle en sal ons busse vol maak om julle te kom ondersteun.”

Besoek die eisteddfod se webtuiste vir die prospektus of Bethlehem Eisteddfod op Facebook.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Susan Maré sm

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.