On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes-raadslid dan gegroet ná skielike dood

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:33 Wed, 18 Mar 2026

Noordwes-raadslid dan gegroet ná skielike dood  | News Article
Gullaume Clouston. Foto: Facebook

’n Munisipale raadslid van Noordwes wat onthou sal word vir sy integriteit en toewyding, word Donderdag (19/03) gegroet.

Gullaume Clouston (49) se skielike afsterwe is ’n groot verlies vir die VF Plus. Hy het die Hartbeespoort-gemeenskap met onwrikbare toewyding en trots gedien, sê Michal Groenewald (MPW), VF Plus-adjunkvoorsitter en provinsiale leier.

Clouston (49) is onverwags oorlede aan ’n hartaanval op 9 Maart. Hy het die party met onderskeiding verteenwoordig in Madibeng (Brits) se munisipale raad. Hy het ook ’n deurlopende en betekenisvolle bydrae gelewer in verskeie raadskomitees.

Gullaume Clouston en dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier. Foto: Facebook

Groenewald sê Clouston se toeganklikheid vir die inwoners van Hartbeespoort en sy professionele hantering van diensleweringskwessies word wyd erken. “So ook sy volgehoue ondersteuning en betrokkenheid by plaaslike skoolgemeenskappe.”

As takvoorsitter vir Hartbeespoort en lid van die VF Plus se provinsiale raad het Gullaume ook ’n sleutelrol gespeel in die bevordering van die party se beleide en beginsels binne sy gemeenskap.

VF Plus-raadslid Elsa Lourens. Foto verskaf

Volgens VF Plus-raadslid Elsa Lourens was Clouston meer as net ’n raadslid. Hy was ’n dienaar van die gemeenskap wat geglo het daarin om ’n positiewe verskil in mense se lewens te maak.

“Diegene wat saam met hom gewerk het, het sy toewyding, sy integriteit en sy bereidwilligheid om op te staan vir wat reg is, geken. Hy het sy werk met passie en opregtheid benader en altyd die behoeftes van die gemeenskap eerste gestel. Sy teenwoordigheid in raadsale en in die gemeenskap sal diep gemis word.”

Sy sê benewens sy rol in die gemeenskap was hy ook ’n vriend, iemand wat lag, wysheid en aanmoediging met mense rondom hom gedeel het. “Sy nalatenskap sal voortleef in die vele lewens wat hy aangeraak het en die werk wat hy vir die dorp gedoen het.

“Ons gedagtes en gebede is met sy vrou, Karien, en hul dogter, Amber, sowel as sy familie, vriende en almal wat die voorreg gehad het om hom te ken.”

Sy roudiens vind op Donderdag om 11:00 in die Meerhofskool-kapel in Hartbeespoort plaas.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.