Central SA
Geliefde spesialis Ludwig de Jager Saterdag in Bloemfontein gegroet─── MORNÉ VAN ROOYEN 15:02 Tue, 24 Mar 2026
Vriende, kollegas, pasiënte en sy familie neem Saterdag (28/3) afskeid van ’n geliefde oor-neus-en-keelspesialis van Bloemfontein.
Dr. Ludwig de Jager het Dinsdag (17/3) kort voor elf die aand in Rosepark-hospitaal gesterf nadat limfoomkanker verlede jaar by hom gediagnoseer is. Hoewel sy kankerbehandeling suksesvol was, het dit tot komplikasies gelei.
Sy goeie vriend se vinnige agteruitgang en sy dood was ’n groot skok vir almal wat hom geken het, vertel die radioveteraan Albe Grobbelaar. “Vir my was hy ’n dierbare, lojale en ’n liefdevolle maat met ’n fyn sin vir humor. Lawwe Ludwig.
“Waar hy was, is daar altyd gelag. Ek het hom nooit hoor kla oor sy siekte nie. Hy’t altyd op die positiewe dinge gefokus.”

Dr. Ludwig de Jager word onthou as iemand met ’n fyn humorsin. Foto verskaf
Hy sal altyd dankbaar wees dat hy die kans gehad het om Ludwig te groet. “Laatmiddag die nuus gekry dat dit baie sleg met hom gaan daar in die Rosepark-hospitaal. Ek het dadelik daarheen gery, en alhoewel hy baie swak en onder pynverdowing was, kon ek nog sy hand vashou en kon ons ’n paar woorde gesels. Kosbaar.”
Ludwig se vrou, Elsabé, sê dis moeilik om haar man se geaardheid te beskryf. “Hy was een van daardie mense wat jy moes beleef. Daar was altyd iets anders.
“Hy was ’n grapjas, maar hy kon maklik huil. Hy kon lag oor iets, maar hy kon baie ernstig raak. Hy het ook sy hart uitgestort in klassieke musiek, maar kon dans op Leon Schuster se liedjies.”

Ludwig en Elsabé de Jager is 35 jaar gelede getroud. Foto verskaf
As enigiemand hom sou vra watter ander loopbaan hy sou wou gevolg het, was sy onmiddellike antwoord: Hy sou graag ’n dirigent wou geword het. “Dit was dramaties,” vertel Elsabé. “Dit was na buite toe leef.
“Dit was om in beheer te wees. Hy het baie keer in die huis gestaan en dirigeer wanneer hy na sy klassieke musiek geluister het. Hy was enig in sy soort.”
Sy liefde het gedans in die lewe, voeg sy by. “Hy het sy kinders (Heidi en Carli) skaam gemaak met sy verspottigheid. Maar hulle kon ook in hom glo en hom vertrou.”
‘Hy kon huil oor sy kinders, oor die vreugde wat hulle hom gegee het’
Die laaste paar jaar het hy “op ’n vreeslik wetenskaplike manier” vir haar verduidelik wat met ouer mans gebeur, waarom hulle makliker huil. “Dan moes ek altyd vir hom lag en vir hom sê: Ludwig, jy het gehuil oor dinge wat mooi is in die lewe en wat hartseer is vandat ek jou 40 jaar gelede leer ken het.”
Haar man kon bewoë raak oor die mooi in die lewe, oor ’n mooi gedig, of mooi musiek. “Hy kon huil oor sy kinders, oor die vreugde wat hulle hom gegee het en die trots wat hulle vir hom gegee het. Hy kon huil oor my omdat hy gelukkig was.”
Ludwig was ’n leser by uitstek. “Hy het Breyten Breytenbach aanbid; elke woord van Breyten op papier. Hy was baie lief vir Daniel Hugo se skryfwerk. Ag, ek kan soveel opnoem …”

Albe Grobbelaar (links) in gesprek met Ludwig en Elsabé de Jager. Foto: Facebook
Hy het “sy binneste uitgeleef. ’n Mens kon hom soms lees soos ’n boek. Ander kere kon jy in sy oë sien wat hy vir jou wou vertel. Hy het die lewe geniet op sy manier, op sy dramatiese manier, maar ook op sy stille manier. Ludwig het gelééf.”
Gevra wat vir hom belangrik was, vertel Elsabé sy was een van die dinge wat vir hom onontbeerlik was. “Ek dink Ludwig kon nie sonder my klaar kom nie, want ons was een in so baie opsigte. Tog het hy vir my vryheid gegee in alles wat ek wou doen.
“Hy sou nooit vir my nee gesê het nie, maar hy sou altyd my raad gevra het. En hy sou my raad gevolg het ook, al wou hy dit nie altyd erken nie.”
Kinderjare op Rand
Sy kinders was ook ’n noodsaaklike deel van sy lewe, al woon albei in Kanada. “Hy sou tot in die fynste besonderhede wou weet waarmee hulle besig is. Hy sou ongevraagde raad gee en hy sou altyd gereed wees met gevraagde raad.”
Ludwig de Jager is op 20 September 1957 in Germiston gebore en het ’n deel van sy kinderjare in Klerksdorp deurgebring, waarna hulle Johannesburg toe verhuis het. In 1975 het hy as hoofseun aan die Hoërskool Vryburger gematrikuleer.
Hy was ’n groot kortafstandatleet, maar terselfdertyd ook ’n musiekkenner van formaat, wat klavier gespeel het en besluit het om musiek sy loopbaan te maak.
Elsabé en Ludwig de Jager. Foto: Facebook
“Hy het altyd vertel hoe wonderlik daai vroeë kinderjare in Klerksdorp was, en hoe hy in die strate nog met die maatjies kon speel,” vertel Elsabé.
“Totdat hy so vyf jaar gelede vir die eerste keer terug is daarheen en die huis was afgebreek, daar was niks oor nie. Ek onthou sy teleurstelling toe hy vir my gesê het daardie deel van sy kinderlewe is vir altyd toe verby.”
Nadat hy musiek aan Tukkies begin studeer het, het hy spoedig besef hy wou nie ’n loopbaan daarvan maak nie. So het hy ’n mediese rigting ingeslaan. “Toe is hy weermag toe en hy het kom spesialiseer in otorinolaringologie aan die Universiteit van die Vrystaat,” vertel sy vrou.
“Dit was vir hom ’n wonderlike tyd hier onder leiding van prof. André Claasen, wat vir hom eindelik tot prof. André se dood verlede jaar ’n kleinood gebly het om André Claasen sy mentor te kon noem. Daar was ’n baie nou band tussen hulle ook.”

Hy was ten nouste by sy kinders se lewe betrokke, al woon Karli (links) en Heidi albei in Kanada. Foto verskaf
Ludwig het as kliniese assistent in die akademie gebly nadat hy klaargemaak het as spesialis einde 1991. “Ons is toe in 2001 Kanada toe. En daar het ons gebly tot 2018. Hy’t teruggekom in 2020.
“Die Bloemfontein-jare was altyd vir ons lekker jare en dis ook die rede waarom ons teruggekeer het na Bloemfontein om hier te kom klaarmaak met loopbane en hier te kom aftree,” vertel Elsabé.
Hulle is in 1992 getroud. “Saam ons huwelik begin hier in Bloemfontein. Wonderlike vriende gemaak, kinders saam grootgemaak in Bloemfontein totdat ons weg is. Ek het teruggekom in 2018.”
‘Die laaste vier jaar van sy lewe was vir hom die kosbaarste tyd in sy lewe’
Ná sy terugkeer het Ludwig twee en ’n half jaar as spesialis gepraktiseer in Potchefstroom, totdat hy kon oorskuif na hul hartsdorp, Bloemfontein, waar hy in Mediclinic kom spesialiseer het. “En hy’t byna vier wonderlike jare in Bloemfontein as oor-neus-en-keelspesialis gepraktiseer,” vertel Elsabé.
Kort voor sy dood het hulle ’n heerlike gesprek gehad. “Ek het vir hom gevra wat het die afgelope vier jaar terug in Bloemfontein vir hom beteken.

Ludwig de Jager het geweet hoe om die lewe te laat sing. Foto verskaf
“Dit was vir hom die lekkerste jare van sy lewe. Dit is vir my iets wat ek altyd in die toekoms sal onthou; dat die laaste vier jaar van sy lewe vir hom die kosbaarste tyd in sy lewe was.
“Ons vriende het vir ons gewag toe ons terugkom. Ons het nuwe vriende gemaak. Ons het ingeskakel by Bloemfontein se sosiale lewe. En dit was vir ons een groot kosbaarheid.
“Dit was ook vir hom ’n groot gerusstelling om te weet dat ek sal voortgaan in sy spore hier in Bloemfontein en dat ek tussen ons mense sal wees.”
Ludwig se troosdiens word DV Saterdag (28/3) om 11:00 in die NG kerk Rant-en-Dal in Bloemfontein gehou.
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

