Central SA
Mev. Suid-Afrika 2026 bedank weens persoonlike redes─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:49 Thu, 26 Mar 2026
Mev. Suid-Afrika het weens persoonlike redes haar titel neergelê, en haar opvolger sal nou die rol oorneem.
Verushka Singh het formeel bedank as Mev. Suid-Afrika 2026. Sy het besluit om haar op belangrike persoonlike prioriteite toe te spits en meer tyd aan haar familie te wy.
Die Mev. Suid-Afrika-organisasie respekteer haar besluit en erken die moed en verantwoordelikheid wat dit verg om keuses te maak wat ’n mens se “welstand en persoonlike reis eer”, sê Joani Jacobs, uitvoerende hoof van Mev. Suid-Afrika.
In ooreenstemming met Mev. Suid-Afrika se tradisie en opvolgingsprotokol, sal die eerste prinses, Carika Bebb, onmiddellik die pligte en verantwoordelikhede van Mev. Suid-Afrika 2026 oorneem.
“Ek is dankbaar vir die geleentheid om op hierdie platform te dien en vir die ongelooflike vroue saam met wie ek die voorreg gehad het om te staan,” sê Singh. “Dis heeltemal my eie besluit, geneem met die behoeftes van my familie in gedagte, en ek tree uit met niks anders as waardering vir Mev. Suid-Afrika en alles waarvoor dit staan nie.”
Singh werk as ’n konsultant oor klimaatsveranderings en het ’n graad in chemiese ingenieurswese van die Universiteit van die Witwatersrand.
Sy is reeds nege jaar met Sasha Singh getroud en het ’n seun, Zach. “Ek is passievol oor klimaatsverandering en volhoubaarheid, en is daartoe verbind om oplossings te bevorder wat omgewingsveerkragtigheid en verantwoordelike ontwikkeling ondersteun.
“Ek geniet dit om gehaltetyd saam met Zach deur te bring, nuwe plekke te verken, meditasie te beoefen en betrokke te wees by aktiwiteite wat my geanker en gebalanseerd hou,” het sy net ná haar kroning gesê.
Volgens Jacobs het Verushka die titel met toewyding en professionaliteit gedra gedurende haar tyd op die platform. “Ons respekteer haar besluit en ondersteun haar om te prioritiseer wat die meeste saakmaak in hierdie fase van haar lewe.”
Bebb sê dis ’n eer om oor te neem en om die werk van “hierdie ongelooflike platform vir vrouebemagtiging” voort te sit. “Ek is daartoe verbind om Mev. Suid-Afrika met doelgerigtheid en trots te verteenwoordig en sien uit daarna om ’n betekenisvolle verskil te maak deur die sake wat my na aan die hart lê.”
Jacobs sê Mev. Suid-Afrika bly toegewyd aan sy doelwit om vroue van invloed en impak te ontwikkel. Programaktiwiteite en geskeduleerde geleenthede sal soos beplan voortgaan.

Jacobs, wat grootgeword het in Welkom, het self in 2009 die kroon gedra. Sy woon al 20 jaar in Johannesburg, waar sy haar lewe en ondernemings opgebou het. Sy is al langer as drie dekades by die skoonheidsbedryf betrokke.
OFM Nuus/Charne van de Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
