Central SA
Brullende bakkies Saterdag op Bethlehem in aksie─── SUSAN MARÉ 08:50 Fri, 27 Mar 2026
Stof, los grond wa spat en bakkies wat brul – dis wat toeskouers Saterdag (28/3) op die Bethlehemse lughawe kan verwag waar die N5 Torque Wars gehou word.
Dit gaan veral ’n opwindende dag wees vir bakkiegeesdriftiges, om van die bakkie-deelnemers self nie te praat nie. Dié versnelrenne ten bate van liefdadigheid word deur N5 4x4 Accessories & Fitment Centre op Bethlehem aangebied.
Die begunstigdes is die Make Bethlehem Beautiful-projek en Sonskyndienssentrum vir bejaardes op die dorp wat finansieel swaar trek. ’n Persentasie van die wins sal aan dié twee instellings afgestaan word.
In die Suid-Afrikaanse motorsportkonteks is die N5 4x4 Torques toegespits op bakkieversnelrenne (‘drags’) waar kragtige viertrekvoertuie met mekaar gaan meeding op die Bethlehem-vliegveld.
Dit kombineer die tradisionele konsep van ’n versnelren (drag race) met robuuste “koninginne van die pad” – soos kragtige 4x4-voertuie. Die wedrenne is op ’n spesiaal voorbereide reguit grondpad met ’n afstand van ongeveer 400 m (die tradisionele kwartmyl) op die vliegveld.
In plaas van teer veg bestuurders teen die elemente van stof en los grond wat traksie en wringkrag die belangrikste faktore maak. Die baie reën die afgelope tyd in Bethlehem kan die jaers dalk ook tot moddervernuf uitdaag.

Die N5 Torque Wars is versnelrenne vir viertrekbakkies. Foto: google.com
Op Bethlehem sal net bakkies met mekaar meeding. Die wenner word bepaal deur wie eerste oor die streep is, maar die bestuurder se amptelike tyd word ook gegee sodat die bestuurder sy persoonlike beste kan probeer verbeter. Tydbeoordelaars van elders is na Betlehem genooi om tyd te hou.
Laurette Veldman, woordvoerder van die reëlingskomitee, sê dis ’n eerste geleentheid van sy soort in die Oos-Vrystaat. Groot opgewondenheid en buitengewone belangstelling, plaaslik en ook van elders, heers.
“Wat toeskouers te wagte kan wees, is ’n dag van vrolike samesyn met baie kos- en ander stalletjies, en ’n speelgebied waar kinders heeldag kan baljaar.
“Die sangers Jo Black en Refentse kom spesiaal om vertonings te lewer, terwyl plaaslike kunstenaars soos Lilian Bear en Kaalvoetkind ook gaan optree. Dit gaan ’n interessante dag vol vermaak wees,” beloof Veldman.
“Oos-Vrystaters word vriendelik uitgenooi om die N5 4x4 Torque Wars op Bethlehem by te woon. Deelnemers kan aanlyn registreer of vroeg die oggend op die vliegveld. Die eerste resies is om 08:00.”
Rig navrae oor toegangsgeld en inskrywingsgeld aan Veldman by 076 757 0000.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

