Central SA
Man vas ná hy glo sy vrou bedwelm, verkrag en afneem─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:04 Fri, 27 Mar 2026
’n Gautengse man sou Vrydag (27/3) in die hof verskyn nadat hy na bewering vyf jaar lank pornografiese materiaal vervaardig het waar hy sy bedwelmde vrou verkrag.
Die verdagte (34) is Donderdag in hegtenis geneem. Foto’s en video’s het opgeduik van die seksuele mishandeling waar sy verdoof en bewusteloos voorkom, sê lt.kol. Amanda van Wyk, nasionale polisiewoordvoerder.
“By nadere ondersoek het forensiese kundiges ook op die toneel op die verdagte se elektroniese toestelle op verskeie beelde en video’s wat die seksuele mishandeling van kinders uitbeeld, afgekom.”
’n Man (48) van Germiston, ook aan Gauteng se Oos-Rand, is intussen in hegtenis geneem vir soortgelyke misdrywe. Die twee verdagtes is aan mekaar bekend.
Seksuele misbruik van kinders
Van Wyk sê albei verdagtes is in hegtenis geneem op aanklagte van seksuele aanranding, besit van ongelisensieerde vuurwapens en die besit, vervaardiging en verspreiding van materiaal oor seksuele misbruik van kinders.
Hulle is aangekeer nadat die eenheid wat elektroniese oortredings ondersoek (Seci) van die Nasionale Misdaadagentskap (NCA), ’n intelligensieverslag van die Britse hoëkommissaris in Kaapstad ontvang het oor ’n Suid-Afrikaner wat na bewering betrokke was by seksuele dade met slapende mense.
Die ondersoekspan het nasionale en provinsiale Seci-beamptes in Gauteng ingesluit, met bystand van die Amerikaanse ambassade se afdeling binnelandse veiligheid. Die polisie het ook op die tweede verdagte se elektroniese toestelle beslag gelê, tesame met twee ongelisensieerde vuurwapens in sy besit.
Die aanklagte sluit ook in die oortreding van art. 16 van die Wet op Kubermisdaad wat handel oor die verspreiding van eksplisiete beeldmateriaal sonder die slagoffer se toestemming.
Van Wyk sê ondersoeke en die forensiese ontleding van die verdagtes se toestelle duur voort.

Gisèle Pélicot. Foto: BBC
Gisèle Pélicot van Frankryk se destydse man, Dominique Pélicot, het haar oor jare bewelm en dosyne ander mans genooi om haar te verkrag terwyl sy bewusteloos was – oortredings wat byna ’n dekade lank aangehou het.
'n Franse regbank het die mans aan verkragting skuldig bevind. Die hof het Dominique tot ’n maksimum van 20 jaar tronkstraf gevonnis, terwyl baie van die ander mans vonnisse ontvang het wat wissel van ’n paar jaar tot meer as ’n dekade.
Die misdade het in 2020 aan die lig gekom toe die polisie ontstellende beeldmateriaal en video's op Dominique se toestelle ontdek het.
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

