Central SA
Brandslagoffers-insameling: Motorfietsryer beleef terugslag─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:39 Fri, 27 Mar 2026
Drié weke sedert die ongeluk waarin ’n motorfietsryer beseer is, het hy ’n terugslag beleef toe sy temperatuur en hartklop oornag gestyg het.
Jason Kilian kon egter Donderdag (26/3) weens vinnige ingryping van die waakeenheidspan en dokters gestabiliseer word. Sy lewenstekens is binne aanvaarbare perke gebring terwyl hy steeds veg teen ’n onderliggende infeksie.
Teen Vrydag was daar bemoedigende tekens. Kilian het ’n kalm en rustige nag gehad, met sy temperatuur op 36 °C, hartklop op 98, en suurstofversadiging op 98%. Sy bloeddruk bly binne normale perke en hy reageer goed op ’n nuwe kursus antibiotika, sê Annerie du Plooy, stigter van die Hero Burn Foundation en ’n vriendin.
Kilian, stigter van Modderbok Adventures, was Saterdag 7 Maart omstreeks 11:40 in ’n motorfietsongeluk naby Carnarvon in die Noord-Kaap, 650 km voor Stellenbosch, sy eindbestemming. Die weldoener het twee dae vantevore The Epic Ride aangepak om 3 000 myl (4 800 km) oor drie dae af te lê.

Jason Kilian het ’n rugstut gekry terwyl hy grootliks onbeweeglik bly. Foto verskaf
Sy mikpunt was om R250 000 vir die Hero Burn Foundation in te samel. Dié organisasie ondersteun brandslagoffers en hul naasbestaandes landwyd.
Ná die ongeluk is Kilian per helikopter na ’n hospitaal in Kimberley geneem, waar hy ingewikkelde nekoperasies ondergaan het. MRI-skanderings het frakture aan sy C6- en C7-werwel getoon.
Hoewel sy rugmurg ongeskonde gebly het, was dringende chirurgie nodig om druk te verlig en sy toestand te stabiliseer.
Hoewel sy toestand steeds ernstig is, het mediese spanne geleidelik terapie begin instel. Volgens Du Plooy werk spesialiste nou individueel met hom en konsentreer op “sagte” rehabilitasie, insluitend om hom te help om weer te leer eet en sluk.
Hy ontvang steeds bykomende voeding deur ’n voedingsbuis soos hy stadigaan sy krag herwin.
Dokters het Sondag (22/3) ’n rugstut aangebring om bykomende ondersteuning te bied terwyl hy grootliks onbeweeglik bly. “Dit help met posisionering en algehele gemak terwyl sy liggaam aanhou genees.
“Hy het ook respiratoriese ondersteuning ontvang om sy longe skoon te hou,” vertel Du Plooy.

Jason Kilian is al drie weke in die hopsitaal. Foto verskaf
Hoewel Kilian swak bly, is daar klein maar betekenisvolle tekens van vordering. “Hy is vir kort oomblikke op ’n slag wakker voordat hy weer aan die slaap raak, iets wat dokters sê tipies is in die vroeë stadiums van herstel. Sy rusperiodes bly noodsaaklik, wat beide sy liggaam en brein tyd gee om te genees.”
Hy word daagliks gesien deur ’n multidissiplinêre span, insluitend fisioterapeute, arbeidsterapeute, spraakterapeute en ’n dieetkundige, wat almal saamwerk om sy herstel te ondersteun.
Hy het gewig verloor, maar sy voedingsbehoeftes word noukeurig bestuur deur binneaarse ondersteuning.
In die dae ná die ongeluk het ’n goeie vriend, Jaco Prinsloo, eienaar van Motorcycle Tours Africa, die res van The Epic Ride namens Kilian voltooi. Hy het op 13 Maart by Kapstadt Brauhaus op Stellenbosch aangekom ter ere van die reis wat Kilian begin het.
Mediese uitgawes
Die Hero Burn Foundation beklemtoon steeds die uitdagings waarmee brandslagoffers te kampe het. Du Plooy sê die herstel duur dikwels lank en mediese uitgawes wissel van R20 000 tot selfs R2 miljoen.
Die organisasie bied noodsaaklike ondersteuning, insluitend om pasiënte te help om in verbinding te bly met hul families, die verskaffing van basiese noodsaaklikhede en hulp met wondsorg en langtermynrehabilitasie.
Sy familie en mediese span doen ’n beroep op privaatheid en vra dat niemand in hierdie stadium Kilian moet besoek nie.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

