Central SA
Mangaung-metro kondig wateronderbrekings aan─── REFILWE BEKANE 09:00 Sun, 29 Mar 2026
Inwoners in Dewetsdorp, Wepener en die suidelike dele van Bloemfontein sal moontik waterprobleme ervaar.
Hierdie onderbrekings het Saterdag (28/3) begin weens slik by die Welbedachtdam se uitlaattonnel wat die vloei van rouwater in die stelsel beperk. As gevolg hiervan is die hoeveelheid water verminder wat aan suidelike woongebiede verskaf word.
Tegniese spanne is besig om die slik te verwyder wat kan lei tot lae waterdruk of geen water in die krane nie.
Die metro vra alle inwoners moet water spaarsaam in die tydperk gebruik om die stelsel te help stabiliseer. Intussen vra die DA vir ’n dringende aksieplan om die krisis met waterinfrastruktuur in die metro die hoof te bied.
Die party sê hulle is baie bekommerd dat jare se verouderde infrastruktuur, hoë waterverliese, swak inkomstebestuur en onvoldoende instandhouding die metro se water- en sanitasiedienste onder ernstige druk geplaas het.
“Inwoners sukkel voortdurend met onbetroubare watertoevoer, rioolstortings en verslegtende infrastruktuur,” sê Frans Bothma, DA-raadslid van die metro.
Om te verseker toegewysde befondsing lewer resultate dring die DA aan op streng toepassing en toesig. Dit sluit in die daarstelling van duidelike projekplanne met gedefinieerde tydsraamwerke, gereelde verslaggewing aan toesigstrukture en die belangrikheid van die opknapping van bestaande infrastruktuur.
Om hierdie agteruitgang om te keer, het die DA die Metro Trading Services Grant van die Nasionale Tesourie as ’n belangrike geleentheid geïdentifiseer.
Hierdie program se doel is om die prestasie en finansiële volhoubaarheid van munisipale dienste te verbeter. DIe metro kan moontlik oor die volgende drie jaar R1 miljard ontvang.
Die fondse is prestasiegebaseerd en hang af van geloofwaardige hervormings, verbeterde bestuur en beter dienslewering.
Vordering word reeds gemaak deur projekte soos die opgradering van die Maselspoort-watersuiweringsaanleg en die installering van grootmaatwatermeters.
Die DA sê sukses sal uiteindelik afhang van sterk leierskap en gesonde finansiële bestuur om te verseker inwoners kry die betroubare dienste wat hulle verdien.
OFM Nuus dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn:066 487 1427.

