On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Watergehalte, -bestuur kommerwekkend in Noord-Kaap, Vrystaat – verslag

───   12:22 Tue, 31 Mar 2026

Watergehalte, -bestuur kommerwekkend in Noord-Kaap, Vrystaat – verslag | News Article
Die Kaart wys waar is die rioolstelselbrandpunte (in rooi) in die land. Foto verskaf

Die jongste groendruppel-, bloudruppel- en geendruppel-verslae skets ’n donker prentjie van waterbestuur en -gehalte in veral die Noord-Kaap en die Vrystaat.

Die volledige 2025-groendruppelverslag toon ’n skerp agteruitgang in munisipale rioolbehandelingstelsels, het dr. Sean Phillips, direkteur-generaal van water en sanitasie, met die bekendstelling van die verslae gesê. Van die 848 stelsels wat in die 2023/24- finansiële jaar geoudit is, is 47% nou in ’n kritieke toestand – ’n toename van 39% sedert 2022. 

Slegs 8% van die stelsels presteer goed of uitstekend, teenoor 14% drie jaar gelede. Die verslag wys infrastruktuurverval, swak bestuur en onvoldoende onderhoud is die grootste redes vir die krisis.

Hierdie bevindings beklemtoon die dringende noodsaak vir regstellende optrede om omgewingsbesoedeling en gesondheidsrisiko’s te beperk, sê Phillips.

Dr. Sean Phillips, direkteur-generaal van water en sanitasie. Foto verskaf

Bloudruppel-verslae gaan oor die gehalte van drinkwater, en geendruppel-verslae oor die doeltreffendheid van waterbestuur, insluitend waterverliese deur lekkasies.

Die jongste vorderingsverslae wys op groot gevare in veral die Noord-Kaap en die Vrystaat. Terwyl Noordwes merkbare verbetering toon sedert die 2023-bloudruppelverslag, kom die hoogste konsentrasie hoërisiko- en kritiekerisiko-stelsels in die Noord-Kaap voor.

Die situasie in die Vrystaat word as kommerwekkend beskryf, waar verskeie munisipaliteite nie aan basiese standaarde voldoen nie. 

Die Maselspoort-waterbehandelingsaanleg in Bloemfontein. Foto: Facebook

Gauteng en die Wes-Kaap behou die beste algehele risikoprofiel, en oor die algemeen presteer groot metropolitaanse gebiede goed wat betref die gehalte van drinkwater. In Noordwes het kritieke risisko’s afgeneem en is die algemene prestasie beter.

Die vorderingsverslae dien volgens Phillips om risiko’s te te bepaal by geregistreerde waterbehandelingswerke en vergelyk die heersende omstandighede met dié tydens vorige verslae. 

Nasionaal toon die resultate ’n klein verbetering in die drinkwater-risikoprofiel: die persentasie laerisiko-stelsels het van 60,2% tot 61,9% gestyg, terwyl kritiekerisikostelsels van 9,9% tot 7,9% gedaal het. 

Hierdie vordering is egter beskeie, en hoë- en kritiekerisikostelsels verg dringende regstellende optrede en sterker regulatoriese aandag, sê Phillips. 

Swak drinkwatergehalte

Die verslag beklemtoon die risiko van swak drinkwatergehalte wat tussen die 2013- en 2023-verslae skerp toegeneem het, nou gestabiliseer het, al is dit steeds op ’n hoë vlak. Omdat die vorderingsverslae nie die huidige status van watergehalte weerspieël nie, moet die resultate nog deur die volledige bloudruppel-verslag bevestig word. 

Volgens die Wet op Waterdienste en die norme van die Suid-Afrikaanse Nasionale Standaard (SANS) vir drinkwatergehalte moet munisipaliteite verbruikers inlig indien toetse wys die water hou ’n gesondheidsgevaar in. 

Waterverliese 

Die publiek kan hul kraanwater veilig drink indien munisipaliteite bevestig dat dit aan SANS 241 voldoen. Inwoners kan dit by hul plaaslike regering nagaan. 

Wat geendruppel-beoordelings betref, het die nasionale gemiddelde persentasie van water waarmee nie inkomste verdien word nie weens waterverliese, onwettige aansluitings en swak meterlesings, konstant gebly op sowat 47,3%, byna dieselfde as in die 2023-verslag. 

Dit wys die skerp toename oor die afgelope dekade is eers gestuit en die situasie het gestabiliseer, hoewel steeds op ’n onaanvaarbare vlak. 

Die onderliggende oorsake van swak prestasie sluit in swak nakoming van standaardprosedures, verwaarloosde infrastruktuur, onvoldoende gekwalifiseerde personeel, begrotings wat nie onderhoud prioritiseer nie, swak inkomste-invordering en swak munisipale leierskap.

Verslae van die departement van samewerkende regering, die nasionale tesourie en die ouditeur-generaal bevestig baie munisipaliteite het eenvoudig nie die vermoë om hul mandaat na te kom om goeie bestuur en dienslewering te verseker nie, sê Phillips. 

Water- en sanitasiedienste word verder verswak deur georganiseerde misdaad, korrupsie, swak finansiële bestuur, onwettige aansluitings en vervalle infrastruktuur, ’n kombinasie wat die volhoubaarheid van waterdienste ernstig bedreig. 

OFM Nuus dg

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.