On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Kosmosfees naby Ficksburg is groot pret vir oud en jonk

───   REFILWE BEKANE 15:00 Tue, 31 Mar 2026

Kosmosfees naby Ficksburg is groot pret vir oud en jonk | News Article
Die jaarlikse Kosmosfees vind die langnaweek plaas naby Ficksburg. Foto: Sandstone Estates

Die Kosmosfees vind van Donderdag (2/4) tot Sondag (5/4) by die Sandstone Estates naby Ficksburg plaas.

Mariëtte Palmer, feesorganiseerder, sê vanjaar is die fees 30 jaar oud. Hoewel die blommeveld, soos die naam aandui, die agtergrond bied vir die geleentheid is die hartklop van die fees die landgoed se versameling stoomtreine.

Oor die jare is aanpassings gemaak en bedrywighede is uitgebrei.

Die ervaring is veral uniek danksy die voorkoms, klanke en beweging van geskiedkundige voertuie. Besoekers kan in die museum kyk na al die voertuie, trekkers, motors en ossewaens wat hier versamel is.

“Ons stoomtreine is ’n absolute moet om te beleef. Om dit in werking te sien in die pragtige kosmoslande is werklik iets besonders.”

Besoekers kan kaartjies koop vir ritte op die Grootdraai Loop & Seb’s Children's Railway, asook vir die voertuie. Kaartjies is ook beskikbaar vir die Sekonyela Explorer-treinrit.

Die terrein van die Sandstone-erfenismuseum open daagliks om 08:30 vir die publiek, terwyl die treine vanaf 10:00 begin loop. Die hekke bly tot 18:00 oop.

Kaartjies is ook beskikbaar op Quicket. Foto: Sandstone Estates

Die toegangsgeld is R385 vir volwassenes, R315 vir pensioentrekkers en R195 vir kinders. Toegang vir alle kinders jonger as drie jaar is gratis. 

Feesgangers kan ook by die hek met hul bankkaarte betaal of kaartjies vooraf by Quicket bespreek. Spesiale tariewe geld vir almal wat meer dae die fees wil bywoon.

Daar gaan ook kosstalletjies wees en ’n  piekniekarea vir gesinne om te ontspan. Maak ook ’n draai by die Waenhuis-kroeg, die  geskenkwinkel en die stalletjies met hul talle aandenkings.

OFM Nuus/Refilwe Bekane dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.