On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Kom luister na Die Karoo Kunslied in Sterrewagteater

───   SUSAN MARÉ 10:02 Wed, 01 Apr 2026

Kom luister na Die Karoo Kunslied in Sterrewagteater | News Article
Die kunstenaars wat optree is Klaus Jansen van Vuuren, Chris Vale en Eugene Joubert. Foto: Verskaf

Spesiaal vir fynproewers en liefhebbers van die Afrikaanse taal en kunslied: Die Karoo Kunslied (DKK) wat op Goeie Vrydag in Bloemfontein se Naval Hill-planetarium die unieke Suid-Afrikaanse landskap in klank verbeeld.

Dié uitvoering word moontlik gemaak deur die plaaslike ATKV-tak Gemeenskapsteater. Die bekroonde kunstenaars wat optree is die bariton en Sama-bekroonde Chris Vale, die Naledi-benoemde Klaus Jansen van Vuuren en die pianis Eugene Joubert. 

Die optrede is deel van DKK se toer na die suide wat op 15 Maart in Pretoria by die Voortrekkermonument begin het, op Victoria-Wes en Philippolis gedraai het voordat dit vort is na die KKNK in Oudtshoorn. 

Volgens Jansen van Vuuren ondersoek DKK die samevloeiing van poësie, landskap en musiek in die Afrikaanse kunslied. Met werke wat strek van vroeë komponiste soos S. le Roux Marais en Pieter de Villiers tot hedendaagse meesters soos Franco Prinsloo, word die Suid-Afrikaanse landskap op unieke wyse in klank verbeeld. 


Die produksie is onder die sambreel van Franco Prinsloo Productions. Franco is ’n bekroonde dirigent, komponis en sleutelfiguur in die moderne Afrikaanse musieklandskap. 

Hy werk veelsydig op vele terreine om kore, musiek, kuns, teater, Afrikaans en kultuur te bevorder. Sy werk word gekenmerk deur 'n diepe eerbied vir die Afrikaanse taal en letterkunde, waarvan Die Karoo Kunslied ook getuienis is.

Die program in die Sterrewagteater sluit toonsettings van digters soos Leipoldt en Boerneef in, asook geliefde luisterliedjies soos Toemaar die donker man, Kinders van die wind en Karoonag.

Gertjan Holtzhausen, ’n vryskut-projekbestuurder wat daarmee gemoeid is om musiek- en ander produksies by feeste, stede en dorpe in Suid-Afrika te organiseer, sê Bloemfonteiners kan waarlik ’n besonderse program te wagte wees.

"Dit bied ’n nuwe dimensie waarin die gestroopte skoonheid van die stem, klavier en vertelling saamvloei met die kosmiese atmosfeer van die naghemel. In die intieme ruimte van die Sterrewagteater beloof dit ’n onvergeetlike ervaring."

Kaartjies is beskikbaar vanaf R120.

OFM Nuus/Susan Maré cvdw

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.