On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse munisipaliteit moet dood van kind ondersoek

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:09 Thu, 02 Apr 2026

Vrystaatse munisipaliteit moet dood van kind ondersoek | News Article
Chris Foord. Foto verskaf

’n Vrystaatse munisipaliteit moet die dood van ’n negejarige seun ondersoek wat hom doodgeskok het.

Die DA sê byna twee maande ná die dood van Chris Foord het die Nala-munisipaliteit in Bothaville nog nie gereageer nie. ’n Lewende munisipale kragkabel het na beweer die jong seun se dood veroorsaak.

Op 18 Maart het die nasionale raad van provinsies (NRP) ’n mosie aanvaar wat ’n ondersoek en ’n formele verslag versoek van Nala, sê dr. Igor Scheurkogel, Vrystaatse DA-lid van die NRP.

“Hierdie straatligkabel was ontbloot. Die munisipaliteit is wetlik verplig om aan hierdie parlementêre mosie te voldoen. Ons sal voortgaan om Nala aanspreeklik te hou vir die versuim om veilige en betroubare dienste aan sy inwoners te lewer.”

Chris was vanjaar ’n gr. 2-leerling aan die plaasskool Loskuil, 25 km suid van Bothaville, nadat hy verlede jaar sy skoolloopbaan aan die Laerskool Jim Fouché in Bloemfontein begin het. 

Saterdag 7 Februarie het hy ná ’n reënbui saam met vriende gespeel toe hy in ’n waterplas geval het. Toe hy opstaan, het hy aan die lewende kabel gevat en is hy geskok.

DA-raadslid Thinus Barnard sê die versuim om basiese elektriese infrastruktuur behoorlik te onderhou en te beveilig, is ’n ernstige skending van die munisipaliteit se grondwetlike en statutêre pligte om inwoners te beskerm. 

“Die munisipaliteit is tans onder finansiële ingryping ingevolge Artikel 139(1)(b) nadat hy herhaaldelik versuim het om sy finansies behoorlik te bestuur en sy verpligtinge na te kom.”

Hy sê die tragedie wek ernstige kommer oor of die provinsiale departement van samewerkende bestuur en die aangestelde administrateur betekenisvolle toesig uitoefen of wettige bestuur herstel. 

Die kragkabel. Foto verskaf

Ten spyte van die ingryping bedreig lewensgevaarlike toestande inwoners.

“Hierdie omstandighede kom neer op ’n duidelike oortreding van die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid, wat vereis dat werkgewers en staatsorganisasies ’n veilige omgewing vir die publiek en werkers moet verskaf en handhaaf,” sê Barnard. 

“Wanneer munisipaliteite nie hul pligte vervul nie, verkeer gemeenskappe – veral kinders – voortdurend in gevaar.”

OFM Nuus cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.