Central SA
Amptenaar weer in Mei voor nadat tref-en-trap-ongeluk twee neefs eis─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:19 Thu, 02 Apr 2026
’n Vrystater wat daarvan beskuldig word dat hy twee nefies in ’n tref-en-trap-ongeluk doodgery het, sal weer op 11 Mei in die hof verskyn.
Nkosana Ngcokwana, ’n amptenaar van die departement van polisie, paaie en vervoer, was op 26 Maart in die hof waar hy teregstaan op aanklagte van roekelose en nalatige bestuur. Hy het na bewering van die ongelukstoneel gevlug, maar is later in hegtenis geneem, sê sers. Josephine Rani, polisiewoordvoerder.
Die twee seuns, Mahlomola Mofokeng (6) en Lehlohonolo Molete (6) van die Matlwangtlwang-township by Steynsrus, is op 4 Februarie helder oordag dood. Die nefies, gr. 1-leerders aan die Laerskool Tharollo, was op pad huis toe van die skool af toe hulle deur ’n voertuig getref is.
Boy Saaiman, VF Plus-raadslid in die Moqhaka-munisipaliteit op Steynsrus, het op die toneel aangekom nadat hy werkers in Matlwangtlwang afgelaai het. Hy het gesê hy het ’n groep mense opgemerk wat bymekaarkom en is toe van die voorval in kennis gestel.
Saak weer uitgestel
Saaiman het verduidelik weens die slag van die botsing het die seuns in ’n waterkanaal langs die pad beland. Hul liggame moes uit die water gehaal word. Albei is op slag dood.
’n Gesamentlike gedenkdiens vir die seuns is op 14 Februarie gehou.
NVG-woordvoerder Mojalefa Senokoatsane sê die saak is op 17 Februarie vir verdere ondersoek uitgestel.
Ngcokwana is op borgtog van R2 000 vrygelaat.
Hoe gemaak ná ’n ongeluk?
Om betrokke te wees by ’n motorongeluk kan stresvol wees, maar dit is belangrik om kalm te bly.
Volgens MyLaw SA vereis Suid-Afrikaanse wetgewing alle bestuurders moet stilhou onmiddellik na ’n ongeluk. Om die toneel te verlaat is ’n strafregtelike oortreding.
Skakel die gevaarligte aan, en ondersoek jouself, passasiers en ander moontlike betrokkenes vir enige teken van beserings. Bel dan die polisie by 10111 of 112. In gevalle van ernstige ongelukke, nader ook ER24 (084 124) of Netcare 911 (082 911).
Help slegs beseerdes om na veiligheid te beweeg as hulle in onmiddellike gevaar verkeer.

Indien ’n mens nog die voertuig kan bestuur, ry daarmee uit die pad en plaas waarskuwingsdriehoeke minstens 45 meter daaragter.
MyLaw SA adviseer ook bestuurders om nie skuld te erken nie; ruil net name, kontaknommers en ID-, rybewys-, voertuigregistrasie- en versekeringsbesonderhede uit. Meld die ongeluk binne 24 uur by die polisie aan en kry ’n saaknommer, selfs vir geringe ongelukke.
Dokumenteer die toneel met foto's van die voertuie, enige skade, die padtoestand en van getuies. Kontak jou versekeringsmaatskappy onmiddellik met jou polisnommer, saaknommer en die ander bestuurder se besonderhede.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
