On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Goudveldse polisieman en vrou se vonnis uitgestel weens gestremde kind

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:00 Wed, 08 Apr 2026

Goudveldse polisieman en vrou se vonnis uitgestel weens gestremde kind | News Article
Daniel Jacobus en Anna Francina Fourie in die streekhof in Welkom. Foto: Charne van der Merwe

’n Vrystaatse oudpolisieman het Woensdag (8/4) hewig ontsteld voorgekom nadat borgtog geweier is hangende sy vonnisoplegging.

Daniel Jacobus en Anna Francina Fourie sou na verwagting in die Welkomse streekhof gevonnis geword het, maar die verrigtinge is tot 4 Junie uitgestel. Fourie het pas sy eerste nag agter tralies deurgebring.

Hy het in dieselfde klere as Dinsdag verskyn en ná die uitstel saam met sy vrou in die beskuldigdebank gestaan. Terwyl die egpaar met mekaar gepraat het, het Fourie wild beduie terwyl Anna emosioneel voorgekom het. Anna se waarskuwing is verleng.

Daniel op pad terug na die selle toe. Foto: Charne van der Merwe

Die Fouries is Dinsdag (7/4) skuldig bevind aan meer as duisend aanklagte van intimidasie en crimen injuria ná ’n langdurige vete met die sakebroers Manny en José Jardim. Die paartjie word ook verantwoordelik gehou vir graffiti wat oor etlike jare aan brûe, padtekens en mure dwarsoor die Goudveld aangebring is.

Die egpaar is ook aangekla van poging tot moord in verband met voorvalle waarin een van die broers se huis na bewering met ’n spykerbom aangeval is en skote daarop afgevuur is. Een van die skote het ’n kind na bewering rakelings gemis. Hulle is wel ook skuldig aan intimidasie.

Die Jardims is in hierdie graffiti geteiken. Foto verskaf

Die egpaar se regsverteenwoordiger, Sam Nkuna, het ’n uitstel versoek om reëlings te tref vir die egpaar se gestremde kind (34). Albei beskuldigdes sal na verwagting tronkstraf opgelê word.


Adv. Allen Simpson, staatsaankler, het die aansoek nie teengestaan nie. Die verdediging sal na verwagting 'n verslag deur ’n maatskaplike werker by die volgende hofverskyning indien om verdere duidelikheid oor die kind se toestand te gee.

Fourie is voorheen uit die polisie ontslaan na bewerings van misdadige optrede.
Hy het teen die skuldigbevinding geappelleer. Die saak is vir Vrydag (17/4) op die hofrol geplaas. Dis nog nie bevestig of die saak gaan voorkom nie.

Die verhoor is met die jare telkens vertraag, onder meer weens ’n doktersbrief wat namens Anna ingedien is met bronchitis, asook Fourie se versoek vir ’n tolk, ten spyte daarvan dat sy voorheen vrae in Engels beantwoord het.
Simpson is ingevolge Artikel 38 van die NVG-wet aangestel om namens die vervolging op te tree.

 OFM Nuus/Charne van der Merwe
 sm

 • Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.