On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Ekapa-mynramp: Slagoffer se vrou sê vals berigte versuur hul lewe

───   MORNÉ VAN ROOYEN 14:39 Fri, 10 Apr 2026

Ekapa-mynramp: Slagoffer se vrou sê vals berigte versuur hul lewe | News Article
JJ Coetzee en sy vrou, Maritsa. Foto verskaf

Die weduwee van ’n skofbaas, wat omgekom het in die Ekapa-mynramp, sê onwaar berigte oor haar huwelik is veral swaar vir hul kinders.

JJ Coetzee (45) se oorskot is op 22 Maart uit die Kimberleyse mynskag gehaal. Hy was een van vyf myners wat sedert 17 Februarie amper 900 m ondergronds vasgekeer was ná ’n modderstorting.

Nelrien Bornman, wat in dieselfde huis as Coetzee gewoon het, het ná sy dood beweer hulle was verloof. Sy vrou sedert 8 September 2007, Maritsa Coetzee (39), sê egter dis onmoontlik; sy en hy was enduit getroud.

“Negentien jaar van getroude lewe. Ons het drie kinders saam. Hulle het ’n verskriklike tyd agter die rug, en vir sulke nuus om versprei te word oor hulle pa, dit breek hulle. Dit breek die hele familie.”

Nie verloof nie

Coetzee, wat op Lichtenburg woon, sê haar man se sogenaamde verloofde beweer hulle was agt jaar verloof. “In 2018 het ek en JJ nog saamgebly. So, daar het dit klaar begin met die valse nuus, dat hulle nie verloof was nie.”

Haar man was in ’n verhouding met Bornman, erken sy, maar volgens hom het dit geruime tyd voor sy dood geëindig. “Daar is bewyse dat sy in Desember JJ se huis leeggemaak en uitgetrek het terwyl hy saam met ons kinders by sy familie gekuier het,” beweer Coetzee.

Bornman het twee weke gelede aan OFM Nuus gesê sy het aktief betrokke gebly in die weke ná die voorval en aandag geskenk aan oproepe, vergaderings en opdaterings. Tog het sy gevoel sy familie sluit haar uit nadat sy liggaam herwin is.

Nelrien Bornman beweer sy en wyle JJ Coetzee was verloof. Foto: Facebook/Nelrien Bornman

“Sy reken ook sy mag glad nie die liggaam uitgeken het nie,” sê Coetzee, “want ék is sy wettige vrou met bewyse van ’n huweliksertifikaat.”

Bornman beweer dat sy geen finansiële hulp van enigiemand gekry het nie, voeg sy by. “Maar sy het wel die R10 000 van die Noord-Kaapse premier gekry (wat hy gereël het vir die slagoffers se naasbestaandes). Dit het haar eintlik nie eens toegekom nie, want sy is nie die ma van JJ se kinders nie.

“Sy is nie die ma wat vir JJ se kinders moet skoolgeld betaal en in rep en roer geld bymekaar moes kry nie. Gelukkig het die premier, nadat hulle besef het van hulle fout, vir my ook R10 000 oorbetaal.”


Dit steek haar dwars in die krop dat Bornman “vir almal vertel hoe lief sy (JJ) gehad het, maar dan vertel sy ook aan ander mense, en ook aan die familie … die Here kom haal dié wat ander sleg behandel, boelie en slegsê.

“So hoe lief het sy hom rêrig gehad om sulke slegte dinge te sê? Ek is die een wat nou moet loop en stukkies optel, wat vure moet doodslaan en valse nuus wat versprei is, moet ek uitsorteer.”

Terwyl sy en die kinders en sy ander naasbestaandes veronderstel is om te rou oor sy dood, word dit hulle nie gegun nie, sê sy. Al het sy en JJ nie meer saamgewoon nie, was hulle steeds getroud.

OFM Nuus/Morné van Rooyen sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.