On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Childline Noordwes kan sluit: ‘Gemeenskap moet ingryp om kinders te beskerm’

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:05 Fri, 17 Apr 2026

Childline Noordwes kan sluit: ‘Gemeenskap moet ingryp om kinders te beskerm’ | News Article
Childline Noordwes benodig hulp anders gaan hul deure sluit. Foto verskaf

’n Hulplyn vir kwesbare kinders in Noordwes is op die punt om gestaak te word.

As niks in die afsienbare toekoms verander nie, kan duisende noodkrete eenvoudig onbeantwoord bly. Elke maand reik tussen 700 en duisend kinders uit na Childline Noordwes in oomblikke van vrees, verwarring en nood – dikwels as ’n laaste uitweg.

Reeds 25 jaar is dié hulplyn ’n lewensbelangrike kontakpunt. Dit het kinders ondersteun wat aan mishandeling, verwaarlosing, armoede en emosionele trauma onderwerp is. Nou kan dit moontlik gesluit word.

Deur middel van sy tolvrye 24-uur-hulplyn bied opgeleide professionele persone onmiddellike berading, krisisingryping en beskerming aan diegene wat nêrens anders het om heen te gaan nie.

Sonder ingryping verger baie van dié situasies. Foto verskaf

In Augustus het die departement van maatskaplike ontwikkeling Childline Noordwes en ander organisasies sonder winsoogmerk in kennis gestel dat hulle nie meer hul dienste kan finansier nie weens geldnood, sê adv. Melindi van Rooyen, direkteur.

Dié besluit is geneem al moet belastingbetalersgeld toegeken word aan voorkomende en vroeë intervensiedienste vir kinders in nood. “Sonder befondsing sal hierdie diens eenvoudig nie kan voortgaan nie,” sê sy. Die tyd loop vinnig uit.


Finansiering van die departement het voorheen personeel se salarisse en ongeveer 60% van bedryfskoste gedek. Daarsonder is Childline Noordwes reeds gedwing om dienste af te skaal, salarisse te besnoei, personeel af te dank en bedrywighede te verminder. Wat oorbly, is ’n brose stelsel.

“Ons bloei reeds finansieel,” sê Van Rooyen. “Elke dag sonder befondsing bring ons nader aan die dag wat ons … finaal moet sluit.”

Kinders in krisis

Die organisasie het sowat R70 000 per maand nodig om die hulplyn te bedryf. As net 700 mense maandeliks R100 bydra, kan die diens voortgaan, vertel sy. Maar sonder dringende ingryping kan daardie befondsingsgaping noodlottig wees.

Agter die statistieke is werklike kinders in krisis. Onlangs het twee seuns byvoorbeeld ’n sewejarige by die skool verkrag. “Onmiddellike terapeutiese ingryping is verskaf, wat nie net die kind ondersteun het nie, maar ook ’n breër probleem met betrekking tot die sirkulasie van pornografie binne die skool blootgelê het.”

As die situasie voortduur kan die gevolge op lang termyn ernstig wees. Foto: CRM Gauteng-Oos

Childline het skakeling met leerders, ouers, opvoeders en die departement van onderwys moontlik gemaak, en aandag geskenk aan die trauma en sistemiese mislukkings wat tot dié voorval gelei het.

“Dit is nie net oproepe nie; dit is kinders in onmiddellike gevaar,” sê Van Rooyen. Sonder ingryping verger baie van dié situasies.

Childline Noordwes hanteer ’n wye reeks gevalle, insluitend mishandeling, verwaarlosing, gedragsprobleme, geestesgesondheidsprobleme, selfdoodgedagtes en ouerskapsuitdagings.

Gevalle

Van Rooyen sê sonder die hulplyn “sal gevalle grootliks by reeds oorbelaste strukture soos die polisie of staatsdepartemente beland, dikwels sonder die dringendheid of gespesialiseerde sorg wat nodig is.”

Die vraag na hierdie dienste neem nie af nie, voeg sy by; inteendeel, gevalle neem toe, wat die druk op ’n reeds oorlaaide stelsel vererger.

Pogings om die finansieringskrisis deur formele kanale op te los, het tot dusver misluk. Nadat interne appèlle onsuksesvol was, is regstappe gedoen met die hulp van prokureurs vir menseregte.

’n Hof het op 12 Februarie ten gunste van Childline Noordwes beslis, maar die departement wil daarteen appelleer. Intussen het die geld van die owerheid opgedroog. Terwyl laat betalings ’n langdurige probleem is, is dit die eerste keer dat geen sent ontvang word nie.

Agter die statistieke is werklike kinders in krisis. Foto: Childline Gauteng

Ander kinderbeskermingsgroepe in die provinsie word deur soortgelyke uitdagings in die gesig gestaar. Sommige word ook gedwing om regstappe te doen. Dit dui op ’n breër mislukking wat die hele netwerk van ondersteuningsdienste vir kwesbare kinders bedreig.

As die situasie voortduur, kan die gevolge op lang termyn ernstig weens, maan Van Rooyen. “Die verdwyning van onmiddellike, hoëgehalte-intervensiedienste sal kinders blootstel aan voortdurende mishandeling, onbehandelde trauma en eskalerende geestesgesondheidskrisisse. Sonder vroeë intervensie verdiep hierdie probleme dikwels, wat lei tot lewenslange gevolge. 

“Vrywilligers kan nie die gespesialiseerde vaardighede vervang wat nodig is om krisisoproepe te bestuur nie. Die hulplyn vereis opgeleide maatskaplike werkers en ondersteuningspersoneel wat in staat is om komplekse, sensitiewe en dikwels lewensgevaarlike situasies te hanteer.”

Die enigste pad na stabiliteit is die herstel van staatsbefondsing. So nie kan die verantwoordelikheid na die breër gemeenskap verskuif om in te gryp waar die stelsel tekortgeskiet het.

“Ons het ’n punt bereik waar die verantwoordelikheid nie net op die regering kan rus nie, dit moet deur die gemeenskap gedra word. Ons kinders behoort aan ons almal, en dit is (ons almal se verantwoordelikheid) om te verseker dat hulle veilig, beskerm en gehoor word,” sê Van Rooyen.

Ondersteuning

“Met die ondersteuning van die gemeenskap, deur bewustheid, betrokkenheid en selfs klein maandelikse bydraes, kan ons hierdie reddingsboei (laat voorbestaan) en ’n toekoms bou waar ons nie meer op staatsbefondsing hoef staat te maak om ons kinders te beskerm nie.”

OFM Nuus/Charne van de Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.