On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Meisie met kogleêre inplanting in 1987 maak weer geskiedenis

───   15:25 Mon, 20 Apr 2026

Meisie met kogleêre inplanting in 1987 maak weer geskiedenis | News Article
Renatha van Reenen, die eerste dowe Kovsiestudent wat ’n meestersgraad in Suid-Afrikaanse Gebaretaal en Dowestudies verwerf het. Foto: UV

Die eerste dowe Suid-Afrikaanse kind wat in 1987 ’n kogleêre inplanting ontvang het, maak byna 40 jaar later weer geskiedenis op die Herfsgradeplegtighede van die Universiteit van die Vrystaat (UV).

Die Oos-Vrystater Renatha van Reenen is die eerste dowe Kovsiestudent wat ’n meestersgraad kon verwerf in Suid-Afrikaanse Gebaretaal en Dowestudies. Wat haar prestasie des te meer merkwaardig maak, is dat sy haar tesis in geheel aangebied het in gebaretaal en deur opgeneemde video’s.

Die UV sê in ’n mediaverklaring sy het elke onderafdeling nougeset gestruktureer en afgeneem, en akademiese verwysings met onderskrifte asook visuele hulpmiddele soos grafika direk in die opname ingesluit.

Die UV beskryf Renatha van Reenen se navorsing as baanbrekend. Foto: UV

Terwyl geskrewe teks maklik geredigeer kan word, moes haar gebaretaal-inhoud van nuuts af opgeneem word, sou aanpassings nodig wees. “Anders as geskrewe werk waar veranderinge maklik aangebring kan word, vereis werk in Suid-Afrikaanse Gebaretaal versigtige voorbereiding, herhaling, en volgehoue konsentrasie,” sê sy. 

Boonop moes sy allerlei tegniese struikelblokke oorkom in haar werk aan ure se hoëdefinisie-videomateriaal.

Die UV beskryf haar navorsing as baanbrekend. Sy het ondersoek ingestel na die nuanses of afwykings in gebaretaal, en spesifiek aandag gegee aan mondbewegings. 

‘Gebaretaal gaan nie net oor die vorming en bewegings van die hand nie’

Hierdie bewegings word dikwels oor die hoof gesien, maar haar werk bewys dit is ‘n noodsaaklike element van taal wat aangepas word na gelang van sosiale konteks en kommunikasiebehoeftes.

“Gebaretaal gaan nie net oor die vorming en bewegings van die hand nie. Dit is ’n volledig visuele taal waarin gesigsuitdrukkings en mondpatrone grammatiese en linguïstiese betekenis dra,” verduidelik sy.

Haar studie dra ook by tot die toenemende akademiese konsensus om erkenning te gee aan gebaretaal as ’n gesofistikeerde medium wat ten volle in staat is om uitdrukking te gee aan teoretiese konsepte.

Die UV sê haar sukses weerspieël die instelling se verbintenis tot die bevordering van ’n inklusiewe leeromgewing. 

Die universiteit het ’n projek gehelp tot stand bring wat uitgediende denkwyses oor hoër onderwys uitdaag deur volgehoue akademiese ondersteuning en tolkdienste aan haar te  verskaf.

“Haar video-tesis bou voort op die geskiedkundige aanvaarding van Suid-Afrikaanse Gebaretaal as amptelike taal in 2023, en dien as onbetwisbare bewys dat die taal ’n stewige plek inneem op die hoogste akademiese vlak.”

OFM Nuus sm

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.