On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Lekkasies in Universitas-hospitaal stel pasiënte in gevaar – VSA

───   MORNÉ VAN ROOYEN 16:40 Mon, 20 Apr 2026

Lekkasies in Universitas-hospitaal stel pasiënte in gevaar – VSA | News Article
Universitas is die Vrystaat se enigste akademiese hospitaal. Foto: Bloemfonein Courant

Groot kommer heers oor gedurige en herhaalde waterlekke in die Universitas-hospitaal in Bloemfontein wat die voorsiening van gesondheidsorg ontwrig.

Die Vereniging vir Staatsamptenare (VSA) sê pasiënte, werknemers en noodsaaklike infrastruktuur word in gevaar gestel. Daarom het hy amptelik aan die departementshoof van die Vrystaatse gesondheidsdepartement geskryf om te vra dat dringend ingegryp word ná ’n vlaag voorvalle, wat net ál erger word.

Die tiende verdieping ervaar steeds gereeld van tyd tot tyd lekkasies, waaraan nie aandag geskenk word nie, sê die VSA. Nagenoeg twee weke gelede is lekkasies op die tweede en vyfde verdieping aangemeld.

Die afgelope Dinsdag (14/4) het water naby die hysbak op die eerste verdieping gelek. “Dié lekkasie was so erg dat die hoofbediener afgeskakel moes word om skade te voorkom,” sê die VSA in ’n verklaring.

LEES OOK: Free State healthcare under scrutiny as Parliament conducts oversight visit

Dit het gelei tot ’n agterstand met pasiënte. “Die Meditech-stelsel was ontoeganklik, wat ’n uiters nadelige uitwerking op kliniese en administratiewe bedrywighede gehad het.”

Net die volgende dag het nog lekkasies voorgekom op die grond- en ondergrondverdieping. Die oorstroming was so erg dat hospitaallinne verwyder moes word.

“Hierdie voorvalle het ’n tasbare uitwerking op pasiëntesorg, die werking van die hospitaal en die veiligheid van noodsaaklike stelsels,” maan die VSA. “Herhaalde onklaar infrastruktuur plaas gesondheidswerkers onder geweldige druk en bring dienslewering in gedrang by een van die provinsie se vernaamste verwysingshospitale.”

Die departement van openbare werke moet dringend ingryp, vra die vereniging, aangesien die gedurige lekkasies getuig van ernstige infrastruktuur- en instandhoudingsgebreke wat onmiddellike ingryping en langdurige oplossings vereis.

“Die VSA vra dat die Vrystaatse departemente van gesondheid en van openbare werke ’n dringende en omvattende ondersoek instel na infrastruktuur, onverwyld regstellende maatreëls instel en met ’n blywende oplossing vorendag kom om nog ontwrigting te voorkom en te keer dat pasiënte verder in gevaar gestel word.”


Die vereniging neem hom voor om die situasie fyn dop te hou en te skakel met alle belanghebbendes om toe te sien dat gesondheidsorgwerkers hul pligte kan uitvoer in ’n veilige, werkende omgewing en dat pasiënte ononderbroke gehalte-gesondheidsorg kan kry.

OFM Nuus het die provinsiale gesondheidsdepartement om kommentaar genader.

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.