Central SA
Onder-Sabie se winkel, restaurant loop deur in brand─── 15:43 Tue, 21 Apr 2026
Toeriste onderweg na die Onder-Sabie-ruskamp in die Krugerwildtuin word aangeraai om die nodige voorrade saam te neem nadat die kampwinkel erg in ’n brand beskadig is.
Sanparke sê die brand het Dinsdag (21/4) vroegoggend uitgebreek. Veral die winkel het erg deurgeloop, terwyl die ontvangsgedeelte en restaurant in mindere mate geraak is.
Die veldwagter-span en ander personeel het vinnig gereageer en die brand bedwing voordat dit na ander geboue kon versprei, sê JP Louw, Sanparke-woordvoerder.
Geen beserings of sterftes is aangemeld nie. Die oorsaak van die brand word ondersoek. Die restaurant en ontvangsarea is ontoeganklik om veiligheidsredes.
Die toneel ná die brand. Foto: Sanparke
Hoewel die restaurant nie deur die brand beskadig is nie, bly dit gesluit weens kragonderbrekings wat deur die brand veroorsaak is. ’n Tydelike diens om voorrade asook eetgoed en drank te verskaf sal so gou moontlik ingestel word.
Verblyf word nie geraak nie en die kamp is volbespreek vir die komende twee langnaweke met openbare vakansiedae op 27 April en 1 Mei. Aktiwiteite soos begeleide wildritte en staptoere gaan voort soos normaal.
Louw raai gaste met besprekings in die kamp aan om voor hul aankoms voorraad aan te koop of by ander kampe soos Skukuza, Krokodilbrug en Satara of piekniekplekke soos Tshokwane of Nkuhlu hout, ys en ander benodigdhede te kry.

Die winkel het die ergste deurgeloop. Foto: Sanparke
Hy doen ook ’n beroep op gaste om die geraakte gebied te vermy om veiligheidsredes.
Sosialemedia-gebruikers het bespiegel die brand kon deur weerlig in die omgewing veroorsaak gewees het.
Die vulstasie in die ruskamp is in November 2021 verwoes nadat dit deur weerlig getref is. Die geriewe het tot op die grond afgebrand, wat groot ontwrigting veroorsaak het. Dit is intussen herbou en heropen.
In 2004 is R4 miljoen se skade aan die winkel aangerig, vermoedelik deur brandstigting.
Die jongste brand kom in ’n jaar wat die Krugerwildtuin erg deurloop onder oorstromings. Orpen-hek is tans ontoeganklik omdat ’n brug oor die R531 buite die park weggespoel het.
Sanparke het die publiek vroeër die week gevra om tot verdere kennisgewing alternatiewe hekke soos Paul Kruger en Phalaborwa te gebruik. Die brug langs die R531 naby die Wits Landelike Fasiliteit buite die park het Sondagaand weggespoel.
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

