On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

R3 miljoen nodig om 9-jarige kankerlyertjie se lewe te red

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:22 Wed, 22 Apr 2026

R3 miljoen nodig om 9-jarige kankerlyertjie se lewe te red | News Article
Zelnay Liebenberg benodig dringend fondse vir noodsaaklike medikasie om haar deur haar kankerstryd te help. Foto verskaf

’n Negejarige meisie van Brakpan is gewikkel in ’n stryd teen leukemie, en ’n wedloop teen tyd.

Zelnay Liebenberg se familie moet dringend R3 miljoen binne die volgende twee weke insamel vir ’n lewensnoodsaaklike immunoterapiemiddel. Hulle wag terselfdertyd om te hoor of haar broer haar kans op ’n beenmurgoorplanting kan wees.

Akute limfoblastiese leukemie (ALL) is in April verlede jaar by Zelnay gediagnoseer. Wat aanvanklik gering gelyk het, het vinnig in elke ouer se ergste nagmerrie ontaard.

Ná verskeie doktersbesoeke en toetse vandat sy in Maart 2025 ongesteld begin voel het, is bevestig dat sy ly aan ’n vinniggroeiende kanker van die bloed en beenmurg, waartydens ’n oorproduksie van onvolwasse witbloedselle (limfoblaste) gesonde bloedselproduksie belemmer.

Die Liebenberg-gesin. Foto verskaf

Dié leerder aan die Laerskool Dalview is in die Charlotte Maxeke- akademiese hospitaal in Johannesburg opgeneem, waar sy ’n lumbaalpunksie en ’n beenmurgbiopsie ondergaan het en ’n IV-druplyn gekry het, vertel haar ma, Zanelle.

’n Poort is later bygevoeg vir die toediening van medikasie. Sy het gereelde bloedoortappings ondergaan en nadat haar geval as hoë risiko geklassifiseer is, is daar met aggressiewe chemoterapie begin.

'Haar lewe bestaan uit hospitaalkamers en pynlike prosedures'

Haar lewe bestaan die afgelope elf maande uit hospitaalkamers en pynlike prosedures. Sy het vir ses maande chemoterapie gekry, en dié behandeling eis sy tol.

“Zelnay het erge naarheid, braking en uitputting verduur – maar veg steeds met ’n krag ver bo haar jare,” sê Zanelle. "Dit het beter begin gaan en haar hare het ook begin teruggroei, toe sy ’n terugslag beleef het."

Zelnay in die hospitaal. Foto verskaf

Haar stryd het in Oktober nóg ingewikkelder geword toe ’n ernstige infeksie dokters gedwing het om haar poort te verwyder, waarna sy kritiek siek geword het. In Maart het die familie weereens hartverskeurende nuus ontvang: Die kanker het teruggekeer nadat dit slegs twee weke in remissie was – hierdie keer in haar beenmurg.

“Ons probeer sterk bly, maar dit is ongelooflik moeilik terwyl ons weet hoe dringend alles is. Die dokters het dit duidelik gemaak – dinge moet vinnig beweeg.”

Geskikte beenmurgskenkers gesoek

Die Liebenberg-gesin klou aan die hoop dat haar broer, Lihan (7), ’n geskikte beenmurgskenker is. “Die toetsresultate word enige dag verwag. As hy ’n pasmaat is, en Zelnay (se kanker in remissie is) – wat beteken dat geen aktiewe kankerselle opgespoor word nie – wil dokters onmiddellik die oorplanting doen.”

Volgens Zanelle het dokters reeds begin met internasionale skenkerregister indien Lihan nie ’n pasmaat is nie. Gedeeltelike pasmaats kan ook oorweeg word en selfs haar ouers kan potensiële skenkers wees as ’n geskikte skenker nie gevind kan word nie.

Terwyl die tyd al hoe minder raak, is daar ’n belangrike stap voordat ’n oorplanting kan plaasvind: Die toediening van ’n immunoterapiemiddel – wat deur dokters beskryf word as die beste kans op oorlewing. Die koste  hiervan beloop R3 miljoen en dit moet binne weke beskikbaar wees.

'Slegs een verskaffer wêreldwyd van immunoterapiemiddel'

“Daar is slegs een verskaffer in die wêreld vir hierdie behandeling,” verduidelik Zenelle. “Hulle bied nie afslag nie, selfs nie vir staatspasiënte nie en daar is geen betalingsplanne nie. Daarom moet ons probeer om die geld so gou moontlik bymekaar te kry.”

As Zelnay se kanker nog nie in remissie is nie, sal sy nog ’n ronde chemoterapie moet kry voordat dokters haar gesondheidstoestand kan revalueer deur ’n beenmurgtoets. Slegs dan, as sy kankervry is en ’n skenker gevind word, kan die immunoterapie begin – gevolg deur ’n oorplanting.

Zelnay word beskryf as 'n sagte kind. Foto verskaf

Sonder die immunoterapie waarsku dokters Zelnay het ’n hoë risiko om herhaaldelik ’n terugslag te beleef. “Dit gee haar ’n beter kans … anders kan die kanker net aanhou terugkom,” sê Zenelle.

Sonder ’n mediese fonds maak hulle staat op beperkte openbare gesondheidsorgondersteuning terwyl hulle probeer om uit hul eie sak bykomende lewensreddende behandelings te dek.

Tot dusver is ongeveer R65 000 ingesamel. Hulle het ook die uitgawes van hospitaalbesoeke, vervoerkoste, tyd weg van die werk en basiese lewenskoste, terwyl hulle probeer om Zelnay sterk genoeg te hou om met haar behandeling voort te gaan.

“Ten spyte van alles glimlag Zelnay steeds. Sy hou aan hoop. En sy hou aan veg. Sy is ’n sagte kind met ’n glimlag wat elke vertrek verlig,” sê Zanelle.

OFM Nuus/Charne van derMerwe  cvdw

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.