Central SA
Bloemfonteinse vrou in hof ná maande se diefstal by plaaslike apteek─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:16 Thu, 23 Apr 2026
’n Bloemfonteinse vrou kom na verwagting weer Vrydag (24/4) voor in die plaaslike landdroshof nadat sy na bewering maande lank voorraad uit ’n plaaslike apteek gesteel het.
Anika Jacobs (27), wat tydelik daar gewerk het, het reeds twee maal vantevore verskyn. Kring-TV-beeldmateriaal wys na bewering hoe sy artikels vaslê wat wissel van energiedrankies tot mediese toerusting.
Twee bronne, ’n man en vrou wat vra om naamloos te bly om die onderneming te beskerm, vertel die beweerde diefstalle het op Saterdag 7 Februarie aan die lig gekom toe onreëlmatige aktiwiteit in die winkel se geskenkafdeling opgemerk is. Verskeie klein, toegedraaide geskenkbokse en ander artikels is blykbaar onder ongewone omstandighede “verkoop”.
“Ek het Maandag 9 Februarie, ná die naweek, opgemerk dat die geskenkrak naby die ingang baie minder items as gewoonlik gehad het. Ek was verbaas, want hierdie produkte verkoop nie gewoonlik so vinnig nie,” vertel die vroulike bron.
Meer as R4 500 se verlies
Uit nuuskierigheid het sy ander werknemers gevra of iemand die vermiste goed verkoop het, maar hulle het nie. Die man het agterdogtig geraak toe voorraadvlakke nie met verkoopsyfers ooreengestem het nie en besluit om die apteek se kring-TV-opnames na te gaan.
Beeldmateriaal wat OFM Nuus gesien het, wys blykbaar hoe Jacobs deur die apteek beweeg en rondkyk voordat sy na bewering artikels soos proteïenstafies, energiedrankies, bloeddrukmonitors, batterye, kougom en geskenkstelle gaps. Jacobs plaas dit blykbaar eers onder die toonbank voordat sy dit later na bewering in haar handsak sit.
Daardie naweek het na bewering meer as R4 500 se artikels voete gekry. Die eienaar het Smith gekonfronteer. “Sy het aanvanklik die bewerings ontken, maar nadat die beeldmateriaal aan haar gewys is, het sy die diefstal erken,” voer hy aan.
‘Sy het slegs ’n deel van wat geneem is, teruggebring’
Hy sê hy het haar tot 15:00 daardie middag gegee om die artikels terug te besorg. “Sy het slegs ’n deel van wat geneem is, teruggebring; net twee kerse. Ek het vir haar gesê dit is nie alles nie en dat sy huis toe moet gaan en die res moet gaan haal.”
Later het Jacobs saam met haar ma met twee sakke vol goed by die apteek aangekom. Hoewel sommige artikels terugbesorg is, kan die apteek dit nie weer verkoop aangesien dit beskadig of oopgemaak was. Jacobs het ook ’n geskrewe brief aan die man voorgelees waarin sy na bewering erken het dat sy al vanaf Desember by die apteek gesteel het.
Volgens die man word die beeldmateriaal slegs ’n maand of twee gehou, wat dit onmoontlik maak om goed wat vroeër gesteel is, uit te ken of die volle omvang van die verlies te bepaal.
Ten spyte van die bewerings, sê die man en vrou hulle voel jammer vir Jacobs.
Die beskuldigde se regsverteenwoordigers, Wiehan Schoeman en Teneal van Deventer van Horn & Van Rensburg Prokureurs, het aansoek gedoen om ’n afwentelingsprogram wanneer die saak in die hof aangehoor word.
’n Afwentelingsprogram is ’n alternatiewe proses vir vervolging waarin ’n beskuldigde verantwoordelikheid aanvaar en in gestruktureerde rehabilitasiemaatreëls geplaas word, wat berading of gemeenskapsprogramme kan insluit. Suksesvolle voltooiing van so ’n program kan in sommige gevalle ’n beskuldigde help om ’n misdaadrekord vry te spring.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427

