Central SA
‘Bloemfonteiners, Santa Shoebox het julle nodig’─── SUSAN MARÉ 11:50 Fri, 24 Apr 2026
Die Santa Shoebox-projek in Bloemfontein het ’n dringende behoefte aan die gemeenskap se meelewing en ondersteuning.
Die 20 jaar oue projek werk met gemeenskappe landwyd, maar in Bloemfontein kort hulle dringend hulpvaardige vrywilligers, sê Deb Zelezniak, uitvoerende hoof van dié geliefde projek. Santa Shoebox, ’n Suid-Afrikaanse liefdadigheidsorganisasie, maak jaarliks van September tot Desember spesiale geskenkbokse vir minder bevoorregte kinders op.
Maar personeellede en vrywilligers werskaf heeljaar met skoleskakeling, samewerking met ander liefdadigheidsgroepe en borge, en selfs die inrig van leeshoekies in klaskamers.
Sedert sy ontstaan in 2006 is reeds meer as 1,5 miljoen kinders in Suid-Afrika en Namibië bereik. Talle kleuterskole met groentetuine is ook al opgerig.

Vrywilligers is die projek se hartklop. Foto: Santa Shoebox
Die vreugde van gee aan ’n kind wat dit nodig het, asook die blydskap en verrassing van die ontvanger, kan nouliks verwoord word. Skenkers van ’n geskenkboks weet, danksy landwye vrywillige werkers wat die inligting by skole of opvoedkundige instellings kry, presies vir wie hulle die boks opmaak, verduidelik Zelezniak.
Die kind het ’n naam, ’n ouderdom, ’n lysie van spesifieke behoeftes; selfs kleregrootte word aangedui. Dan word elke boks met liefde vir ’n spesifieke kind gepak en versier.
Santa Shoebox word op nasionale vlak uitstekend georganiseer en gelei deur Zelezniak. Die projek is oorsponklike gestig deur Irené Pieters, wat in 2022 afgetree het.
Vrywilligers
Koördineerders sê die projek word op ’n vrywilligergrondslag deur “satellietspanne” bestuur. Mense in Bloemfontein wat as helpers betrokke wil raak, kan op die projek se webtuiste registreer.
Die Santa Shoebox se netwerk vrywilligers is landwyd betrokke in stede, dorpe en gemeenskappe. Hulle kan kies hoeveel tyd hulle het en waarmee hulle wil help.
“Ons het landwyd gevra vrywilligers moes na vore kom en feitlik oral mense vir 2026 gekry,” vertel Zelezniak. “Bloemfontein is die enigste plek waar ons steeds mense kort.
“Ek hoop ons mense gaan hierdie artikel raaklees en deel word van ons Bloemfontein-span. Ons sal vrywilligers met ope arms verwelkom. Dis uiters bevredigend om by hierdie projek betrokke te wees en instrumenteel om mense of kinders te help wat dit baie nodig het.”

Die bokse bring groot vreugde vir die ontvangers. Foto: Santa Shoebox
Skole en versorgingsentrums wat graag begunstigdes van die projek wil wees, het tussen 7 en 23 April aansoek gedoen om bokse te ontvang. Ondernemings wat wil skenk, kan in Junie registreer, en individue wat graag wil deelneem, sal in September kans kry om aan te meld as skenkers.
Die opmaak en later oopmaak van die geskenkbokse bring vir skenkers sowel as ontvangers groot vreugde mee. Die kartondose moet ’n skoenboks (ongeveer 20 x 34 x 11 cm) wees, kleurryk versier, met die kind se naam duidelik vermeld. Die deksel word apart versier ter wille van oopmaak en kontrole.
Elke boks het agt verpligte artikels: tandepasta en -borsel, ’n koekie seep en waslap, ’n stel nuwe klere (byvoorbeeld ’n T-hemp, kortbroek of rokkie), opvoedkundige benodigdhede vir die skooljaar wat voorlê, lekkers (geen neute of vloeibare lekkers nie), sjokolade slegs in ’n Ziploc-sakkie en ’n speelding.

Elke boks het agt verpligte artikels in. Foto: Santa Shoebox
Die res van die inhoud is opsioneel. Elke boks sal nagegaan word deur vrywilligers vir inhoud wat nie aanvaarbaar is nie. Skenkers kan selfs sanitêre doekies vir tienermeisies insluit.
Nadat ’n boks gemerk is met die amptelike etiket wat van die webtuiste uitgedruk kan word, moet dit laat Oktober of begin November by ’n aangewese aflaaipunt afgegee word in Bloemfontein (of waar ook al die naaste punt is). Die aflaaipunt sal bekendgemaak word.
Vir mense wat nie self inkopies kan doen nie, is daar ’n virtuele skoenboks. Dit kan aanlyn gekoop word teen R500. Vrywilligers pak dan die boks namens die gewer.
Registreer
Dit is belangrik om op die Santa Shoebox se webwerf te registreer as vrywilliger. Ouer mense wat daarmee sukkel, kan iemand vra om hulle te help met die registrasie, of vra bystand by deur e-pos te stuur of whatsapp 082 884 7639.
Die organiseerders sê die vreugde om saam aan so ’n projek te werk en die spangees van die vrywilligers, is jaarliks ’n inspirasie. Sommige mense neem al langer as tien jaar deel omdat dit vir hulle so vervullend is.
“Die hart van iemand wat graag gee – sy geld of tyd – sal weet hoe dit nie net ’n eie lewe nie, maar ook die lewens van ander verryk en met groot blydskap vervul.”
Vind alle inligting en kontakbesonderhede op Santa Shoebox se webtuiste.
OFM/Susan Maré sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

