On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Hof vonnis Vrystaatse jagters wat honde gebruik, mag nie diere aanhou

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:27 Wed, 29 Apr 2026

Hof vonnis Vrystaatse jagters wat honde gebruik, mag nie diere aanhou | News Article
Een van die honde wat gebruik is om onwettig te jag. Foto verskaf

Twee Vrystaatse jagters mag vir vyf jaar geen diere aanhou nie nadat hulle skuldig bevind is aan dieremishandeling.

Tshepang Joseph Saudi (44) en Lebohang Ramorotsi (20) is Vrydag (24/4) in die Bloemfonteinse landdroshof gevonnis. Die twee mans het honde gebruik om onwettig wild mee te jag.

Albei het skuldig gepleit nadat die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging (DBV) die verdagtes in Augustus 2025 op Rouxville aangekeer het, sê inspekteur Lucky Olifant. Die beamptes het die mans betrap met agt honde, vier dooie ystervarke en die karkas van ’n steenbok. 

'Onwettig om een dier aan te hits om ander aan te val'

Ingevolge die Dierebeskermingswet is dit onwettig om een dier aan te hits om ’n ander een aan te val. Dit sluit ook sogenaamde “bloedsport” en jag met honde in.

Die twee mans het honde gebruik om onwettig wild te jag. Foto verskaf

Saudi en Ramorotsi is elkeen ’n boete van R4 000 of twaalf maande gevangenisstraf opgelê, sê Olifant. Ramorotsi se vonnis is vir vyf jaar opgeskort. Daarbenewens is albei vir ’n tydperk van vyf jaar ongeskik verklaar om enige dier te besit.

'Honde word soos gereedskap behandel'

“Onwettige jag is nie net ’n misdaad teen die natuur nie, dit is ’n daad van wreedheid wat geweldige pyn, vrees en lyding vir onskuldige diere veroorsaak. Honde wat vir jag gebruik word, word dikwels soos gereedskap, eerder as lewende wesens, behandel,” sê Olifant.

“Die diere word blootgestel aan strawwe toestande, beserings, honger en verwaarlosing. Wildspesies soos ystervarke en steenbokke ly en sterf ’n wrede dood, wat ekostelsels ontwrig en komende geslagte van hul natuurerfenis beroof.”

Die twee mans mag vir vyf jaar nie diere besit nie. Foto verskaf

Die DBV vra inwoners moet waaksaam bly en enige verdagte optrede aanmeld wat die gebruik van honde vir jag behels.

Vrystaat Landbou se dr. Jane Buys het voorheen aan OFM Agri gesê boere moet eers die grondeienaar en plaaslike polisie nader wanneer oortreders hul eiendom betree. Plaasveiligheidsbeamptes moet ook in kennis gestel word.

“Dit is ewe belangrik om die veiligheidsverteenwoordiger van die plaaslike boerevereniging te waarsku, aangesien hierdie jagters dikwels in groot groepe op plase aankom.

Een van die ystervarke wat gejag is. Foto verskaf

“Dit sou onverstandig wees vir ’n grondeienaar om hierdie mense alleen te konfronteer, want hulle is dikwels arrogant en aggressief en kan gewapen wees."

Grondeienaars word aangeraai om werkers opdrag te gee om niemand toestemming te gee om in hul afwesigheid op die plaas te jag nie.

Buys het grondeienaars aangeraai om Agri SA- en Vrystaat Landbou se plaasprotokoltekens, of soortgelyke kennisgewings, aan hekke, ingange en grensheinings te vertoon om duidelik aan te dui die grond is privaat eiendom en onregmatige toegang is verbode.

“Natuurbewaringsbeamptes of die DBV moet onmiddellik genader word wanneer skade veroorsaak is of diere beseer is.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe   cvdw

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of Whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.